Die Vrouelandbouvereniging (VLV) het ’n lang en interessante geskiedenis en hul lede hou nog gereeld maandeliks byeenkomste.
Om die VLV-Kaapland se 85ste bestaansjaar in 2014 te gedenk, het Erika Lubbe, VLV-president van 2005-2014, ’n spesiale roos deur die wêreldbekende rooskweker Ludwig Taschner laat kweek. Nie net is die spesiale roos gekweek nie, maar in samewerking met Overberg Agri is ’n pragtige gedenkblik met ’n afbeelding van die roos op die voorkant en die deksel uitgegee om dié spesiale mylpaal te vier.
“Overberg Agri ondersteun die VLV van Kaapland as ’n gewaardeerde vennoot in die bemarking van landbou en ons graanprodukte in die Wes-Kaap,” is Overberg Agri se boodskap agter op die blik.
Aan die onderkant van die blik is ’n volledige resep vir Overbergse saadjiesbeskuit.
’n Inwoner van Caledon, wat ’n ywerige blikversamelaar is, het dié besonderse blik onlangs aan die Caledon-tak van die VLV geskenk.