Met die begin van die nuwe skooljaar, is dit belangrik om te weet dat Stats SA bekend gemaak het dat werkloosheid van 30,1% tot 34,9% die laaste twee jaar verhoog het – dit is nie net kommerwekkend nie, maar laat ook ‘n bitter smaak in ‘n mens se mond.
Wiskunde Is een van jou belangrikste skoolvakke en om suksesvol in wiskunde te wees, was nog nooit so belangrik soos nou nie. Met nuwe poste wat in die tegnologiese veld beskikbaar is en wiskundevaardighede vereis, sê Two-a-Day in Grabouw dat wiskunde nou ‘n belangrike vereiste is. Die menslikehulpbronbestuurder van Two-a-Day, Dimitri Jacobs, sê hulle het hande gevat met met Greenshots, ‘n onderwysondersteuningsgroep wat aanlyn platforms gebruik om kinders se wiskundevaardighede te verbeter.
Volgens Mark Swartz, een van die direkteure van Greenshots, is leerders gewoonlik bang vir wiskunde, maar gebruik hulle toestelle soos selfone om hulle te leer. “Ons werk met meer as 600 laerskole en die onderwysdepartement bestuur hierdie aanlyn wiskundeprogram waar leerders meer selfvertroue ontwikkel as dit by wiskunde kom,” vertel Mark.
Volgens Swartz is alles deesdae aanlyn en wiskunde behoort ook aanlyn te wees. “In die jare toe ek nog op skool was het ons wiskunde in ons boeke gedoen, die onderwyser het die somme gemerk. As ons vasgebrand het met ‘n som, het die onderwyser jou kom help. Ons het al die somme wat in ooreenkomstig is met die kurrikulum aanlyn vir leerders van graad drie tot sewe beskikbaar gestel. Dié program word Maths Curriculum Online genoem. Leerders kan by MCO aanmeld en dan weekliks hul wiskundeoefeninge doen.” Swartz verduidelik verder dat daar ook aanlyn video’s is as die leerders sukkel.
Two-a-Day het nou bande met Green Shots gesmee om die kinders van die werknemers van Two-a-Day met wiskunde te help. “Daar is geen kostes verbonde nie. Jy moet net registreer dan is jy reg om deel te wees.”
Volgens Jacobs is dit vir hulle belangrik om die jeug met wiskunde toe te rus. “Die ouers en versorgers beskik dikwels nie oor die vaardighede om die leerders te help nie. Ons het al boodskappe oor die program elektronies met ons werknemers gedeel en hoop dat hulle baat by dit sal vind. Ons glo dat ons die leiers in die toekoms so kan bemagtig,” sê Jacobs.


