Om ’n veiliger Overstrand vir almal daar te stel, werk al die wetstoepassers nou saam om dit te kan bewerkstellig – veral met die Desembervakansie wat op hande is en vakansiegangers wat na die Overstrand gaan stroom.
Die onderburgemeester van die Overstrand-munisipaliteit, Lindile Ntsabo, en die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, het die K9-honde-eenheid verlede Donderdag (6 Oktober) besoek om te sien wat dié eenheid in die omgewing doen.
“Ons het die eenheid en ander wetstoepassers besoek om te sien wat hulle alles doen om die inwoners en besoekers in die Overberg-streek veilig te hou,” het Allen gesê.
Ná ’n vergadering met die belanghebbende partye en ’n parade waar Allen nader kennis gemaak het met die beamptes van die K9-eenheid, het hulle van die Nuwe Hawe in Hermanus na Gansbaai gevaar.
“Hoewel dit nie ’n plesierrit was nie en ons deurdrenk was met water, kan ek maar net my dank teenoor die Overstrand-munisipaliteit uitspreek dat hy alles in sy vermoë doen om ’n veilige omgewing vir almal te skep. Dit is duidelik dat die vennootskap tussen die Wes-Kaapse regering, die munisipaliteit en ander organisasies soos die buurtwagte, gemeenskapspolisiëringsforums en plaaswagte, vordering maak in die bekamping van misdaad,” het Allen gesê.