Die Kersvakansie is op ons en paaie, veral die N2, gaan druk besig wees die volgende maand.
Volgens padgebruikers is dit ’n nagmerrie om die N2 naby Grabouw te gebruik.
Verlede Saterdag is twee voertuie met klippe bestook – waarvan die Grabouw-polisie bewus is. Volgens kapt. Raldene Atson, ’n woordvoerder van die Grabouw-polisie, is twee klagtes oor dié klipgooiery Saterdagaand 26 November aangemeld. Volgens haar het die voorvalle aan Hillside se kant gebeur.
Volgens ’n betroubare bron het nog voorvalle voorgekom waar mense amper hul lewe op die N2 verloor het. “Volgens my het vier voorvalle voorgekom, waar mense op die N2 onder die klippe gesteek is,” het die bron gesê.
Grabouw-inwoners wat daagliks tussen Grabouw en Somerset-Wes en Strand pendel, sê om die N2 te gebruik, raak lewensgevaarlik.
Dit het behoorlik op sosiale media gegons toe inwoners van die voorvalle te wete gekom het. Een inwoner vertel dat baie vroue alleen op die pad ry, en sê dit kan ’n veiligheidsrisiko vir hulle inhou.
“Die klipgooiery op die N2 is besig om ’n baie groot probleem te word. Daar is hoeveel vroue wat daagliks alleen op daardie pad moet ry. Kan die polisie of verkeersdepartement nie iets aan die saak doen nie?” het een padgebruiker op WhatsApp gesê.
Volgens een van die slagoffers, wat verkies om anoniem te bly, is die gerugte wat die ronde doen dat dit kinders is wat kattekwaad aanvang, onwaar. “Ek het gesien hoe ’n volwasse man ’n klip optel en in ons rigting gooi,” het sy gesê. “Dit is uit en uit om mense te beroof.”
Inwoners is ook moedeloos aangesien niemand, volgens hulle, iets daadwerk-lik wil doen om die situasie op te los nie. ’n Voorstel is by ’n onlangse gemeenskapspolisiëringsvergadering gedoen dat van die inwoners, buurt-wagte en private veiligheidsmaatskappye die owerhede moet help om op die N2 te patrolleer.
Menige inwoner voel dit is nie regverdig dat buurtwagte en inwoners die werk van die polisie moet doen en hul lewens in gevaar moet stel nie.
Maar dit is nie net klipgooiery wat padgebruikers die josie in maak nie – ook die beeste op die N2 asook kinders wat heen en weer oor die pad hardloop, is ’n groot probleem.
Distrikspos, Hermanus Times se susterskoerant, het in Mei berig oor Richard de Villiers, die Radio Disa-omroeper wat ’n bees op die snelweg naby die Pineview-afdraai getref het, maar kort ná die voorval ’n slagoffer van roof geword het (“Omroeper tref bees, toe beroof”, Distrikspos 11 Mei 2022).
“Ek was gelukkig en is die Here dankbaar dat Hy sy engele gestuur het om my op te pas. Maar, môre gebeur dit met iemand anders, wat dalk nie so gelukkig is nie,” het hy destyds gesê.
Keenan Walbrugh, die Wes-Kaapse projekbestuurder vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), het ook in Mei gesê hulle neem kennis van die kommer wat geopper is en ondersoek opsies om padveiligheid op die betrokke gedeelte van die snelweg te verbeter – maar na maande se probleme word steeds niks gedoen aan die situasie wat net al erger raak nie.
Hermanus Times het die Wes-Kaapse verkeerswoordvoerder oor kommentaar genader of hulle nie dalk iets aan die situasie kan doen nie, maar teen druktyd is geen terugvoering nog ontvang nie.