Na hooggeregshof

Die verhoor van die twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle saamgesweer het om Charlene October in Elim te vermoor, sal na die Wes-Kaapse hooggeregshof geskuif word.


Die verhoor van die twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle saamgesweer het om Charlene October in Elim te vermoor, sal na die Wes-Kaapse hooggeregshof geskuif word.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, het bevestig dat Ashley October en Tashwill van der Rheede op 20 Mei in die hooggeregshof in Kaapstad sal verskyn.

Ashley October staar aanklagte van sameswering tot moord, sameswering om te roof en moord te pleeg, huisbraak met die doel om te roof en moord te pleeg, twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede, moord en dwarsboming van die gereg in die gesig.

Van der Rheede is van sameswering tot moord en sameswering tot roof en moord te pleeg, aangekla.

Die aanklagte hou verband met ’n voorval in Julie 2021 toe Charlene October, Ashley October se eksvrou, in haar huis aangeval en vermoor is en die huiswinkel langs haar huis beroof is. Charlene het vir 20 jaar as polisiebeampte gewerk voordat sy Elim toe verhuis het.

Die ma van vier kinders was alleen tuis met haar kleindogter wat in daardie stadium slegs een maand oud was. Die baba was ongedeerd.

Voordat hulle in die hooggeregshof verskyn, sal Van der Rheede egter Woensdag 20 April ’n borgtogaansoek voor die hof bring. Van der Rheede, wat op 30 Julie in hegtenis geneem is, het aanvanklik aangedui dat hy nie om borgtog sou aansoek doen nie. Die gemeenskap van Elim het op daardie tydstip ’n petisie opgestel om te eis dat borgtog nie aan hom toegestaan moet word nie, maar indien dit wel gebeur, dat hy nie in Elim toegelaat moes word nie.

Honderde mense het ook petisies onderteken om te eis dat October nie op borgtog vrygelaat moet word nie.

Sy borgtogaansoek vroeër vanjaar was onsuksesvol.

Charlene se familielede sê hulle is tevrede dat die saak na die hooggeregshof oorgeplaas sal word.

“Ons is dankbaar vir die werk wat adjudant-offisier en kaptein Volkwyn verrig het. Hulle het onverpoos gewerk en ons sien uit dat geregtigheid uiteindelik sal geskied,” het die familie afgesluit.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.