Naalde klik vir borste

Helpende Hand en die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) snoer kragte saam om vir vroue wat hul borste weens borskanker verloor het, ’n borsprostese te brei.


Helpende Hand en die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) snoer kragte saam om vir vroue wat hul borste weens borskanker verloor het, ’n borsprostese te brei.

“Die doel van Helpende Hand se jaarlikse Breinaald-projek is om mense se liefde en vermoë om te brei en te hekel, aan te wend om ’n verskil in die gemeenskap te maak. Ons het in 2021 vroetelmoue vir mense met demensie of Alzheimers se siekte gemaak. Ons pak vanjaar in samewerking met Kansa en die FroueVonds die Brei-vir-Kansa-projek onder die vaandel van #Boesemvriendinne aan,” sê Alisha de Lange, Streekorganiseerder by Solidariteit Helpende Hand in die Wes-Kaap. Die FroueVonds (met opset verkeerd gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg verloop nie) is in 2019 binne Helpende Hand gestig om vroue te bemagtig.

De Lange sê die publiek kan van nou af tot Oktober saam met flukse Helpende Hand-vrywilligers en seniors landwyd brei dat dit bars.

Die prostese word gebrei om ’n verskil te maak in die lewe van vroue wat weens borskanker ’n bors verloor het en nie ’n silikoonprostese of borsrekonstruksie kan bekostig nie.

“Hierdie projek lê my baie na aan die hart. Dis moeilik om iemand op die vermoeiende, lang pad van borskanker te sien stap. Ten spyte van al die emosionele en geestelike op- en afdraandes wat met die siekte gepaard gaan, is dit vir ’n vrou traumaties om haar hare én haar borste te verloor. Ons wil die pad makliker maak en die lyding verlig met ’n straaltjie van hoop in die vorm van ’n gebreide borsprostese. So ploeg ons terug om vroue met borskanker ’n stukkie van hul vrouwees, en natuurlik ook hoop, terug te gee,” sê De Lange.

Gerda Strauss, hoof van dienste by Kansa, sê hulle is trots om deur hierdie “wonderlike inisiatief” ’n vennootskap met Helpende Hand te vorm om pasiënte met borskanker te ondersteun.

“Elke prostese wat ons aan ’n borskankerpasiënt skenk, word opreg waardeer en herstel hierdie vroue se waardigheid,” sê Strauss.

Die algehele koste van die pakket wat benodig word om een prostese te brei, is R60. Dit bevat sintetiese wol, vullingsmateriaal asook die patroon om die prostese te brei of te hekel. Hierdie pakkies word dan na enige vrywilliger of lid van die publiek wat wil saambrei, versprei.

Helpend Hand gaan in Oktober, wat ook Borskankermaand is, die gebreide borsprostese by Kansa-kantore landwyd oorhandig om dit aan vroue te versprei wat dit benodig. . Kontak Alisha de Lange by alisha@helpendehand.co.za vir nog inlgting oor die breiprojek.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.