Baie mense het die legendariese nagklub The Avenues in Caledon geken.
Dié gewilde nagklub, wat op 29 Augustus 1997 deur die koning van langarm-musiek, Bobby Hendricks, en twee van sy seuns, Robert en Garfield, geopen is, was loshande die gewildste dansplek in die omgewing. ’n Derde seun, Bjorn, het later by hulle aangesluit. Aangesien langarm-dans so gewild is, het die seuns besluit om ’n 25-jaar-reünie van The Avenues te hou. Alle vorige platejoggies wat by die nagklub betrokke was, asook vorige werknemers, is genooi.
Robert, ook ’n kranige langarm-danser, het saam met Abmer Martinook, ook ’n vurige langarm-danser, besluit om die gewilde danssoort lewend te hou deur weekliks ’n baldans-leermeester na Caledon te laat kom om mense langarm-danslesse te laat neem.
Robert glo dit is belangrik om langarm-dans lewend te hou en om dié rede is die Langarm Academy onlangs gestig. Ongelukkig kan nie almal die lesgeld bekostig nie, en daarom sal ’n gedeelte van die opbrengs van die reünie aangewend word om die Langarm Academy te bevorder.
Die Avenues-reünie word op 23 Desember in die Victoriasaal in Caledon gehou. Bel Robert by 076 203 6501. – Mitzi Buys