Dit is weer terug – Nampo-Kaap.

Nadat die Covid-19-pandemie hierdie geleentheid in die wiele gery het, is Nampo-Kaap weer terug en bied dié skou weer iets vir die vroue ook wat in droogte en misoeste bankvas agter hul mans staan.

Die Afgri-vroueprogram word daagliks van Woensdag tot Vrydag van 09:30-12:30 in die tent op die grasperk voor die BKB-uitstalsentrum aangebied.

Sonja de Beer van Kokkedoor-faam gesels oor seisoene en kos; die bekende Suid-Afrikaanse sanger Jannie Moolman tree op met ou bekende Afrikaanse en Engelse liedjies; die motiveringspreker Elsabé Aldrich sal die gaste inspireer, bemoedig en veral vermaak met haar humor en kwinkslae, en Rico Summers, wynmaker van Van Loveren, deel ’n paar geheime oor wyn en kos wat mekaar aanvul.

Nampo-Kaap bied vanjaar vir die eerste keer van 14 tot 17 September ook ’n instap-skoonheidsalon aan, waar elke vrou kan ontspan en die behandeling(s) van haar keuse kan geniet. Agt talentvolle skoonheidsdeskundiges van Bredasdorp sal hier hul kragte saamsnoer om die skoner geslag van kop tot tone te bederf terwyl die mans besig is om die landbou-uitstallings te besoek.

Benewens die skoonheidsprodukte wat by stalletjies in die salon te koop is, kan die vroue hulle verlustig aan ’n groot verskeidenheid juwele, kuns, gebak, ingemaakte produkte, binnenshuise versiering, klere, blomme en vele meer.

Moet ook nie vergeet om ’n draai te maak in die Voermol-saal by die Nedbank-blomme­rangskikkinguitstalling nie.

Nog ’n nuwe toevoeging op die Nampo-Kaap-spyskaart is die Elim-fynbosuitstalling in die Shell-saal.

. Vir nog inligting skakel die Kaap Agulhas-toerismekantoor by 028 424 2584 of 082 896 2225 of besoek www.overberg-info.co.za vir inligting oor verblyf.

You need to be Logged In to leave a comment.