Die derde aanbieding van Nampo Kaap, en die grootste nog, het onlangs 32 640 besoekers gelok, wat die meer as 500 uitstallers ondersteun het.
“Dit was wonderlik om ná ’n afwesigheid van twee jaar weer die Nampo Kaap te kon aanbied,” het Toit Wessels, Graan SA se assistentbestuurder van Nampo, gesê.
“Die positiewe terugvoer van die uitstallers in terme van saketransaksies bly egter steeds een van die belangrikste en mees akkurate maatstawe vir sukses, en die uitstallers het vir seker by dié hoogtepunt op die Kaapse landboukalender baat gevind.”
Die Overberg-jeugskou was nog ’n hoogtepunt tydens Saterdag se program. As een van agt streekskompetisies in die Wes-Kaap waaraan leerders kan deelneem om te kwalifiseer vir die Wes-Kaapse Jeugskou-kampioenskap, wat vir Maart 2023 beplan word, is 176 inskrywings in 14 klasse ontvang.
Die Merino Classic 2022 het sy belofte nagekom en die beste merino’s in Suid-Afrika onder een dak vir die skou gehuisves.
“Besoekers aan Nampo Kaap was uitgehonger vir graanpraatjies en saamkuier en het behoorlik uitgesien om dít wat landbou bied, te kom beleef. Graan SA het positiewe en waardevolle gesprekke met die Wes-Kaapse premier , Allen Winde, sowel as die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, gehad,” het dr. Pieter Taljaard, uitvoerende hoof van Graan SA, gesê.
“Die waarde vir produsente om nuwe tegnologie op een platform te sien en dit maklik kan vergelyk, kan nie onderskat word nie. Nuwe idees vir aanpassings en nuwe ontwerpe is oral te vind en die netwerk geleenthede met bestaande en nuwe lede en landbourolspelers se bestuurspanne is legio,” het Taljaard afgesluit.. Nampo Kaap 2023 is reeds in beplanning met die datum reeds vasgestel vir 13 tot 16 September 2023 by Bredasdorppark. Aansoeke vir uitstallers wat deel van Nampo Kaap 2023 wil wees, open op 1 Februarie 2023. Aansoekvorms en nog inligting is by www.nampo.co.za of www.nampokaap.co.za te kry.