Ná ’n onderbreking van twee jaar weens die Covid-pandemie was Nampo Kaap vanjaar met ’n knal terug. Dié gewilde landbou-ekspo is van 14 tot 17 September by Bredasdorp-park gehou.
Gedurende die onderbreking het die Bredasdorp-park se direksie nie met die hande gevou gesit nie, maar heelwat veranderinge en verbeteringe by die park aangebring. Nog 72 bykomende uitstalruimtes is ingerig en die parkeerterrein vir besoekers is aansienlik vergroot.
Alhoewel dit ’n landbou-ekspo is, het die skou met ’n groot verskeidenheid programme, uitstallings en demonstrasies iets vir elkeen – oud en jonk – se smaak en belangstelling gebied.
Nie net is die allernuutste landboumasjinerie tentoongestel nie, maar besoekers kon ook kennis maak met verskeie plaasdiere, ’n skaapskeerdemonstrasie sien, die Nasie in Gesprek-praatjies onder leiding van Theo Vorster bywoon en enigiets van alpakkawol-sokkies tot tuisgemaakte konfyt by van die vele interessante stalletjies koop.
Kosstalletjies en eetplekke was te kies en te keur. Anders as voorheen was die eetplekke hierdie keer nie in een plek nie, maar meer verspreid oor die terrein, wat dit aansienlik vergemaklik het vir dié wat na iets te ete of drinke gesoek het.
Nampo Kaap het ook dié jaar geleentheid aan skole en organisasies sonder winsoogmerk gebied om kosstalletjies vir geldinsameling te bedryf. Eetplekke wat deur private maatskappye bedryf is, moes ’n gedeelte van hul wins aan dié organisasies skenk.
Die Nedbank-blommerangskikkinguitstalling, waarvan Marjolijn Malan die sameroeper is, lok altyd groot belangstelling. Dit is veral Malan se reuse-installasie wat besoekers elke jaar gaande het. Hierdie jaar het sy ’n koningsprotea van 4 m hoog, met ’n boonste omtrek van 12,8 m, gebou. Altesaam 46 blomblare uit ’n staalraamwerk is met gekleurde sisal oorgetrek en die stuifmeeldrade was gedroogde kanolastokke.
“Ek het twee jaar gelede al kanolastokke begin optel en dit in ’n ou koeistal op die plaas gestoor. Ek het honderde stokke gebruik om die stuifmeeldrade uit te beeld. Die stokke is baie lig en gee visuele impak en beweging aan die hele struktuur. Die sisal is met die hand aan elke blomblaarraamwerk vasgewerk.”
Malan sê sy het geen idee hoe lank sy aan hierdie installasie gewerk het nie, want sy het nie rekord gehou van die ure nie, maar dat dit baie ure van swoeg en sweet was, is gewis.
Dirk Giliomee het al die sweiswerk vir die blomblare volgens haar sketse en die konstruksie gedoen, en ook die hele installasie met ’n hyskraan aan ’n balk geanker. Malan sê sy het baie van die werk vooraf op die grond gedoen, maar om die laaste stuifmeeldrade in te sit, het sy in krat op ’n trekker gestaan.
“Daar was ook ’n “Fifty Shades of Green”-rangskikkingkompetisie waaraan topontwerpers van die Wes-Kaap deelgeneem het en wat die publiek moes beoordeel. Die wenner het ’n slagskaap gewen, want dit is mos immers ’n landbouskou.”
Malan is ’n internasionaal bekroonde rangskikker, demonstreerder en beoordelaar.
Die Elim-fynbosuitstalling wat die verskeidenheid en raar spesies van die Elim-streek uitgebeeld het, was ook besonder insiggewend en interessant. Met ’n besoekersgetal van 6 450 op die eerste dag, was dit duidelik dat mense lus was om die landbouskou weer by te woon.