Sonia Jacobs van Riviersonderend, ’n 44-jarige ma van vyf, se boek Net Een Traan is pas aanlyn bekendgestel.


“Die flieks The Ellen Pakkies Story en Dis ek, Anna het my gedagtes laat oopgaan en dis hoe ek aan die skryf geraak het,” sê Sonia Jacobs, ’n 44-jarige ma van vyf van Riviersonderend.

Sonia se boek Net Een Traan is onlangs aanlyn bekendgestel.

In ’n telefoniese onderhoud praat Sonia openhartig met Hermanus Times. “My ma het ’n kêrel gehad en ons het op ’n plaas gebly. Ek het hierdie boek geskryf omdat ek nooit hulp gekry het nie.

“Ek het gesien waardeur baie vroue, en kinders wat met ’n stiefpappa grootgeword het, gaan. Dit het my altyd emosioneel laat voel, en toe voel ek as ek ’n boek skryf, is ek moontlik ’n inspirasie vir iemand anders daar buite wat nie hulp gekry het nie en wat dink hulle kan nie oor sulke dinge kom nie,” sê Sonia.

Op ’n vraag oor hoe familielede voel oor die boek wat sy geskryf het oor iets wat in die familiekring gebeur het, sê Sonia: “Die familie is tevrede met wat ek gedoen het. Sommige van hulle is wel gekant daarteen, maar ek gee nie om nie, want dit is wat ék deurgegaan het en hulle was nie daar toe ek dit deurgegaan het nie.

“Hulle het my almal afgestaan die tyd wat ek dit vir my ouers en my naaste familie vertel het. Ek het geen hulp van hulle gekry nie en spesifiek nie van my ma nie,” sê Sonia.

Op ’n vraag aan Sonia of haar ouers nog leef, antwoord sy: “Nee, hulle albei is vandag onder die grond. My ma het in Januarie gesterf, maar sy het geweet van die boek wat ek geskryf het en sy het dit goedgekeur.”

Sonia, wat in Riviersonderend gebore en getoë is, is nie rekenaar-geletterd nie. “Ek het met pen op papier geskryf. Jaco Koen van Funky Force Youth Development Movie Centre NPO en spesifiek hul skryfafdeling het gehelp om dit op die rekenaar te kry en hy het dit verder gevat,” sê Sonia.

Net een Traan is tans in elektroniese formaat by Amazon beskikbaar, maar sodra genoeg geld beskikbaar is, sal dit ook in gedrukte vorm beskikbaar wees. Die boek sal in Engels as Teardrop verskyn.

Sonia werk op ’n hoenderplaas by Stormsvlei Avontuur en sê: “Ek het al baie goeie terugvoer oor die boek ontvang, maar baie van my vriende wil wag om die gedrukte weergawe van die boek te koop. Hulle sê hulle wil die boek in hul hande hou en lees.”

Jaco Koen van Funky Force Youth Movement noem aan Hermanus Times: “Ons is regtig baie trots op Sonia. Indien daar ander mense is wat hul stories wil vertel, kan hulle my gerus kontak.”. Jaco se nommer: 083 394 4425. Om die elektroniese boek te bestel, gaan na https://www.amazon.com/dp/BOCS3K15JH

You need to be Logged In to leave a comment.