Die netbalfees wat by Genadendal gehou is, was ‘n reusesukses.

Bianca Du Plessis

Young Eagles Bereaville-netbalklub het onlangs ’n opwindende netbaltoernooi in Bereaville, Genadendal gehou.

Dit was deel van die klub se vieringe wat die Vrydagaand begin het met ’n modeparade waar Abigail Odendal as Mej. Young Eagles gekroon is. Angeline Viljoen was die eerste prinses, Micha Messias die tweede prinses en Zeldine Jannecke is as Mej. Persoonlikheid gekroon. Die skoonhede het op ’n mooi perdekar, begelei deur ’n orkes en trompoppies, by die toernooi opgedaag.

Klubs van Riviersonderend, Hawston, Caledon, Helderstroom, Grabouw, Genadendal, Elgin, Hermanus, Bettiesbaai en Kleinmond het deelgeneem en Hawston en Black Scorpions van Hermanus het in die eindronde teen mekaar kragte gemeet.

Hawston het naelskraaps teen die Scorpions verloor, wat met 14-13 as die wenners van die toernooi gekroon is.

Genadendal Young Ones-netbalklub was derde en Charlyn Claasen is as die beste doelskieter aangewys.

Henno Sauls, voorsitter van Young Eagles Bereaville-netbalklub, het die deelnemers en ondersteuners vir hul bydrae tot die dag se sukses bedank.

“Baie dankie ook aan die skeidsregters van die liga vir hul ondersteuning en die spelers van Young Eagles wat my gehelp het om als moontlik te maak. Ons glo die toernooi sal nou ’n jaarlikse instelling word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article