’n Jong man se droom om iets vir sy gemeenskap te doen, het daartoe gelei dat hy ’n netbalklub op die been gebring het.
Henno James Sauls van Bereaville vertel dit het als begin nadat hy en ’n vriendin een naweek ’n wedstryd tussen inwoners van die dorp gereël het.
“Als het goed afgeloop en onmiddellik het die idee by my opgekom om ’n netbalspan op die been te bring. Ons het die Young Eagles-netbalklub gestig en ons het op 21 Julie begin. Ons doel is om ’n beter en veiliger gemeenskap vir ons jongmense te bou en hulle deur sport van alle euwels af weg te hou. Ons bestaan nou reeds twee maande en het al 10 wedstryde gespeel.”
Die gemeenskap se ondersteuning, sê Sauls, vul hulle met trots. Die klub het ’n vergadering op 16 September gehou waar hulle die gemeenskap ingelig het oor wat hulle tot dusver bereik het en wat hul toekomsplanne inhou.
Sauls het die raadslid Chris Cloete vir sy finansiële bydrae bedank, asook Karen Apollis wat geld sowel as trofeë geskenk het, Trevor Hermanus (voorsitter van die Overberg-distriksgemeenskapspolisiëringsforum) wat splinternuwe netbalpale en ’n bal geskenk het, en die plaaslike rugbyspan.
“Dankie ook aan ’n ieder en ’n elk wat ’n bydrae lewer vir die uitbreiding van ons netbalklub,” het Sauls bygevoeg. “Dankie ook aan die spelers wat hul tyd opoffer om deel van die span te wees . Ons is nog besig om die klub uit te brei en hoop en vertrou ons sal binnekort ons eie netbalbaan kan inwy.
“Ons het tans nog finansiële skenkings nodig vir ons uniforms en ander benodigdhede.”
Enigeen wat by die klub wil aansluit of hulle wil ondersteun, kan Sauls, by 073 022 2166 bel.