Vulstasies is deesdae soveel meer as bloot net ’n plek waar ’n mens brandstof in jou ryding ingooi, met die meeste wat ’n netjiese gerieflikheidswinkel het waar ’n mens iets te ete kan koop en dikwels ook ’n lekker koppie koffie kan kry.
By die Country Market van Overberg Agri se vulstasie in Caledon kan jy nie net versnaperings kry nie, maar van Vrydag (1 Desember) af kan jy ook heerlike Wiesenhof-koffie koop.
Kobus Wiese vertel aan Hermanus Times: “Ons het ’n groepsooreenkoms met Overberg Agri by al hul takke soos by die vulstasies met ’n vat-en-ry-konsep, waar jy iets kan eet – van toebroodjies, burgers, worsrolletjies, pasteie en muffins – en nou is ons reeks koffies ook beskikbaar.
“By Stanford het ons ’n re-branding na Wiesenhof op 2 Desember gedoen. Daar kan jy ontspan terwyl jy koffie drink en daar is ook ’n grasperk waar kinders lekker kan speel,” sê Wiese.
Wiese noem dat nog afsetpunte volgende jaar geopen sal word.