Dit is duidelik dat klubrugby in die Overberg steeds van krag tot krag gaan.

Nie eens die wind en nat toestande – en die feit dat die Springbokke teen Wallis in hul eerste toets gespeel het – kon ondersteuners van klubrugby uit die rugbystadions hou nie.

“Dit wys net hoe honger ons ondersteuners is om weer klubrugby uit die boonste rakke te sien,” het ’n ondersteuner van Grabouw-rugbyklub gesê.

Tydens die Grootuitdaagbeker se wedstryd tussen Hawston Skrik vir Niks en Grabouw-rugbyklub was daar net een span op die veld. Skrik vir Niks se eerste span het behoorlik oor Grabouw gestoomroller en dié wedstryd 41-19 gewen. Die tweede span van Skrik vir Niks het 7-5 gewen terwyl die derde span 10-5 teen die span van Grabouw gewen het.

Tydens die wedstryd tussen Caledon-rugbyklub en die spanne van Genadendal het Genadendal gewys hy is honger vir rugby en tot op die einde sy hart uitgespeel. Caledon se eerste span het 31-17 gewen, sy tweede span 17-7 en die derde spanne het gelykop – 6 elk – gespeel.

Harde rugby is ook tussen Safcol van Grabouw en Black Leaves van Gansbaai gespeel. Die eerste span van Safcol het 18-11 gewen, die tweede span 5-3 en die derde span het gelykop gespeel – 13 elk.

Die Bredasdorp Rangers het BotlaFire van Botrivier die stryd aangesê en letterlik Botla se vuur geblus. Die eerste span van Bredasdorp het 15-8 gewen, die tweede span 17-12 en die derde span het die spit gebyt met 0-7.

You need to be Logged In to leave a comment.