Caledon het lanklaas die deuntjie van ’n roomyskarretjie gehoor, maar deesdae wag almal oor naweke in spanning om te hoor wanneer die roomyskarretjie in die omgewing is. Kinders, volwassenes en selfs Tyra die skaaphond kan nie wag om ’n roomys te kry nie.
Jesse Kayser, wat die onderneming by sy skoonpa oorgeneem het, vertel:” Hierdie roomyskarretjie het aan my skoonpa behoort. Hy het baie jare gelede daarmee in Caledon rondgery. Toe hulle na Kimberley verhuis, het die roomyskarretjie saamgegaan, maar noudat hulle terug in Caledon is, het my skoonpa gesê hy sien nie meer kans vir die roomys-rondryery nie en dit aan my oorgelaat. Ek ry Saterdae en Sondae in verskillende woonbuurte in Caledon. Die mense is baie opgewonde daaroor. Soms bel mense my of stuur WhatsApp om te vra waar ek is.”