Nog grond in Hermanus beset

Amptenare van die Overstrand-munisipaliteit moes Donderdagmiddag inderhaas ’n noodvergadering hou nadat inwoners van Mount Pleasant in Hermanus ’n oop stuk grond langs die R43 beset het.


Amptenare van die Overstrand-munisipaliteit moes Donderdagmiddag inderhaas ’n noodvergadering hou nadat inwoners van Mount Pleasant in Hermanus ’n oop stuk grond langs die R43 beset het.

Mense het van vroegoggend na die oop stuk grond aangrensend aan die Mount Pleasant-sportveld gestroom om erwe met pale, klippe en ander materiaal af te steek. Die landskap het later soos ’n lappieskombers gelyk toe rooi en wit lint die middag gespan is om die erwe van mekaar te skei.

Die munisipale bestuurder, direkteur van gemeenskapsdienste en direkteure van veiligheidsdienste het saam met afgevaardigdes van die polisie en die Mount Pleasant Behuisingstaakspan vergader voordat hulle terugvoering aan die grondbesetters gegee het.

Roderick Williams, direkteur van gemeenskapsdienste, het aan die gemeenskap verduidelik dat Mount Pleasant nie in die uitvoerende burgemeester Dudley Coetzee se toespraak oor noodbehuising genoem is nie aangesien grond vir dié doel nog nie geïdentifiseer was nie.

“Die aanbeveling vir geskikte grond in Jakobregopstraat in Ghost Town is nou gedoen. Dit moet aan die brugemeester voorgelê word maar befondsing vir die aanlê van dienste is reeds gereserveer,” het Williams verduidelik.

Altesaam 40 gesinne sal op dié stuk grond gehuisves kan word. Voorsiening sal gemaak word vir een toilet per elke vyf gesinne en een kraan vir elke 25 gesinne.

Jolene Manuel, een van die mense wat erwe afgebaken het, sê egter hulle is nie hiermee tevrede nie.

“Ons moet nou hoor van grond vir noodbehuising. Ons wil nie in ’n plakkerskamp bly nie, ons soek ons erwe sodat ons teen Desember ons eie plekkies kan bou,” het sy ontstoke gesê.

Manuel beweer daar is aan die gemeenskap belowe dat erwe teen November aan hulle beskikbaar gestel sou word sodat hulle self huise daarop kan bou. Dit volg nadat inwoners van Mount Pleasant in Mei vanjaar oor behuising betoog het.

Inwoners was egter nie heeltemal tevrede met die terugvoering nie en het gedreig dat hulle dit nie vreedsaam sou aanvaar as wetstoepassers hul pale en boumateriaal sou verwyder nie.

Curtis Butler sê as die owerhede onwettige strukture wil afbreek, moet hulle begin by die areas wat bekend staan as Marikana en Dubai in Zwelihle waar meer as 1 000 strukture onlangs opgerig is.

“Die gemeenskap voel dis onregverdig dat daardie inwoners se strukture nie afgebreek is nie maar die munisipaliteit dreig dat as ons strukture hier bou, sal hulle dit kom afbreek. Ons gaan nie hier weg nie, ons soek wat ons toekom,” het hy bygevoeg.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.