Elizabeth Lock (66) lewe in vrees sedert haar dogter Dorianne Lock verlede week enkele meters van hul huis in Mount Pleasant deur ’n onbekende skieter afgemaai is.
Lock se twee dogters, onderskeidelik twee en 10, was in die motor toe die gewapende aanvaller Maandag 11 Julie omstreeks 07:20 op hulle losgebrand het. Die 10-jarige is in die been gewond en Lock se lewensmaat is skrams in die rug, sy been en linkerarm getref.
Sy broer, wat ook in die voertuig was, het oor die tweejarige geval om haar teen die koeëlreën te beskerm. Als het afgespeel voor Lock se seun wat in die pad voor hul huis gespeel en als gesien het.
Rameesha Javed, Lock se suster, sê sy het enkele oomblikke voor die skote begin klap het, met haar suster op WhatsApp gesels.
“Ek het gesê ‘sien jou later’ en sy het geantwoord met ’n soentjie,” vertel sy.
Nadat hul bure hulle kom inlig het dat Dorianne raakgeskiet is, het Rameesha en Elizabeth na die toneel gehardloop. Die meeste koeëlgate en skade, vertel hulle, was aan die passasierskant voor waar Dorianne gesit het.
Die 10-jarige het later vir hulle vertel dat haar ma belowe het om vir haar tekkies soos haar jonger suster s’n te koop net voor die skote begin klap het.
“Sy sê die man het ’n rooi kappietop aangehad en met sy hande in sy sakke geloop. Hy het toe, soos hy aangestap gekom het, op hulle begin skiet,” sê Rameesha.
Die skieter het toe in die rigting van Marikana informele nedersetting gehardloop en spoorloos verdwyn.
“My suster se kind het vir haar gevra of sy oukeiis en sy het haar oë oopgemaak en weer toegemaak maar niks gesê nie,” sê Rameesha.
Die bure het Elizabeth en Rameesha probeer weghou, maar hulle het tog gesien hoe Dorianne leweloos op die voorste sitplek lê.
“Ek het na haar gekyk en gewonder wanneer gaan sy dan nou haar kop oplig,” vertel Rameesha. “Toe iemand vir ons sê sy is dood, het ons van ons koppe afgeraak, ons kon dit nie glo nie want sy was altyd so sterk.”
Die rede vir die aanval, sê die familie, is onbekend. Van die bespiegelings is dat ’n sluipmoorduit die tronk gereël is, maar dit is onwaar, sê Rameesha. “Dis ook nie waar dat sy in ’n saak sou getuig het soos mense beweer nie.
“Dit moet iemand wees wat iets teen my suster gehad het, want die meeste skade was aan haar kant.”
Die gesin is nou te bang om uit die huis te kom en lewe in vrees dat die skieter sal terugkeer om die res van hulle af te maai.
“Ek haat nie die een wat dit gedoen het nie,” sê Elizabeth. “Ek wil net weet hoekom het hulle dit aan my kind gedoen, hoekom moes hulle haar so wreed wegvat?”
Kaptein Fadila September, woordvoerder van die Hermanus-polisie, het bevestig dat geen inhegtenisnemings al in verband met die moord en twee aanklagte van poging tot moord in hegtenis geneem is nie.
“Alle leidrade word opgevolg,” het sy bygevoeg.