Weskapenaars praat die afgelope weke angstig oor die koue front wat op pad is en allerhande bangmaakstories is in omloop.

Langfaan reken dit is Weerhaan se skuld want daar word te veel klem gelê op verwoestende storms in die Arktika, wat skeepvaart ontwrig.Jammer is my goeie antwoord, maar Weerhaan kan nie wegkom van die gedagte (net ’n gevoel) dat alles nie pluis is daar bo in die lug nie.

Ons sien pal dat albei die hoogdrukke wegskram van die vasteland en nie vir goeie konveksie by die normale vloei van koue lug langs die kus kan uitkom nie. Die bietjie neerslag, veral in die druiwelande, is saam met die inperking reëls ’n erge probleem, met wynboere wat wakker lê weens die oorskot wat op die oes wag.

Dit is veral verlede week se prentjie in die bolug wat duidelik gewys het hoe die twee hoogdrukke aanmekaar van die land af wegskram. Weerhaan het by weerkenners gaan lig opsteek en ja, ons is verniet bekommerd. Volgens hulle is dit nie die normale oorgangspatroon van die winter en somer reënvalmaande nie, maar baie duidelik die tydelike herstel van die droogtetye wat ons beleef. Die Weskaapse damme is nou reeds drie keer voller as in 2018.

Ons het die afgelope tyd oral sneeu sien val en gister was die Atlaniese hoogdruk weer nêrens te sien nie, terwyl die Indiese hoogdruk aan die ooskus weer ingedring het en die bietjie warm lug weggekeer het.Woensdagoggend vroeg was daar egter tekens dat die noordwes begin druk en die kanse is goed dat daar redelike konveksie by Gough-eiland kan plaasvind.

Die gunstige lugvloei skuif vandag (Donderdag) egter te vêr van die land verby en ons kry grootliks net bibberweer.Volgens buurman wat ons temperature dophou, sal ons vandag en môre nie meer as 15 grade beleef nie, en dit terwyl die son nie heeltemal wegkruip nie. Die noordwes het laasnag besgegee en die noordoos kom laai vandag (Donderdag) ’n klomp koue lug op ons af. Dit is eers na twaalf dat ons ’n bietjie son kry. Maar Vrydagoggend sal ons weer met opstaantyd teen 7 grade C moet veg om nie terug in die bed te spring nie.

Teen Sondag draai die wind en kan ons darem ’n slag met 20 grade C in die sonnetjie rond beweeg. Daar is dan ook goeie konveksie by Gough en Maandag val sowat 6 mm in die Overstrand. Die word Donderdag opgevolg met sowat 19 mm.

You need to be Logged In to leave a comment.