Daar is van Weerhaan se tjommies wat reken “heerlike lente” het aangebreek, maar Langfaan sê wat ons nou sien, is stuiptrekkings in die bolug en hy is nie so seker of ons winterreën nog tot diep in Oktober sal aanhou nie; asof ons damme, wat omtrent almal meer as 90% vol is, nóg water nodig het.
Die aanduidings is dat dit tot diep in Oktober nog heelwat kan reën. Vandag se heerlike sonskyn in die Overberg is in skrille kontras met die noordelike dele van die land waar die eerste donderstorms van die somerseisoen alreeds gesig gewys het. Dit begin môreoggend weer reën en dit sous regdeur tot Maandag so rondom 15:00. Dan kry ons ‘n blaaskans om die wasgoed te doen, maar Buurman se vrou sê die raad wat sy het, is dat mense met babadoeke in die huis ekstra doeke moet gaan koop , want dit begin Woensdagmiddag weer sous om die lente alles behalwe lekker in te wy. Die geheelprentjie in die bolug dui daarop dat selfs in die oostelike gedeeltes van die land, waar die damme nog sukkel, buie verwag kan word.
Veral in die Oudtshoorn-gebied waar die Kammassiedam soos die Gamkadam dolleeg is, kan boere reën verwag. Die huidige aanduidings is dat die temperature ook redelik stabiel tussen 12 °C en 16°C sal bly. Dit is nie ongewoon vir hierdie tyd van die jaar nie aangesien die grond nog baie klamkoud is en die wind pal suid waai. ‘n Sterk front uit die weste wat suid van die land verbybeweeg, sorg dat dit nie té koud raak nie. Langfaan wys daarop dat die aarde sedert verlede week in ‘n nuwe wentelbaan om die son beweeg en dat natuurliefhebbers sal opmerk dat die son nie agter dieselfde koppie opkom nie. Die hele prentjie van die alledaagse weerpatroon het derhalwe effens verander.
Dit is egter geen dramatise verandering nie en veral in droë gebiede in die land moet mense bewus wees van moontlike brandgevare, soos dit wat ons nog aanmekaar in die noordelike halfrond sien. Mense wat bekommerd is oor fyn- en groentetuintjies moet maar geduldig wees en eers by die kwekerye kers opsteek voordat op groot skaal groente aangeplant word. Langfaan wys ook daarop dat sommige boere met oorskot groente sit en dat sekere groente, soos wortels, ekonomies bereken goedkoper in winkels is as om duur huiswater te gebruik.