Bleek
dae, min son en deurmekaar winde wat kom en gaan, lê dié week vir Overstranders
en die grootste dele van die Suid-Kaap voor. Buurman sê dit lyk of die
deurmekaarweer in ooreenstemming is met die politiek en die huidige “Zondo” met
die bure “so to speak”. Vir Weerhaan lyk dit kompleet of die Atlantiese hoogdruk ‘n spook gesien het en
weier om nader aan die land te kom vir konveksie van enige aard. Dit terwyl die
lugdruk weerskante van die land rondom 1020 hPa speel en eintlik ideaal vir
reëntoestande is.
Dit
is Langfaan wat vandag weer van die kantlyn af uit die siekeboeg wil weet wat
ons met nóg water wil maak as die damme oral oorloop? Ja, selfs hier in die
Suid-Kaap; die Duivenhoks by Heidelberg en die Korentepoort by Riversdal, soek
nie nog water nie. Net Mosselbaai se Wolwedansdam en George se Tuinroetedam
sukkel nog halfpad deur na hul walle toe wat ongeveer rondom 50% vol is. En
vorentoe is dit net wolke, wolke, wolke van allerhande soorte wat die meeste
Overstranders nog nie voorheen gesien het nie. En môre (Vrydag) sous dit
tot Saterdagoggend toe. Dit sal seker vannag al begin en tot
Saterdagmiddag aanhou. Sowat 20 mm kan gemeet word.
Die
neerslag sal met slegte koueweer gepaardgaan. Die bietjie hitte wat van dorpsgeboue
af weerkaats kan bydra dat dit soms bedags 14 °C sal haal. Sterk winde
wat kom en gaan volg die patroon oor die res van die land. Sondag kraak ons
weer onder 10 °C. Dit
is eers teen Woensdag dat Buurman verwag dat ons weer 19 °C sal sien en aan die
lyf voel, maar dit is regte verkoueweer, waarsku mev. Buurman. En om dinge
ongemakliker vir kinders te maak, is daar ‘n bietjie oorskietnattigheid in die
bolug vanuit die Atlantiese see, wat sorg vir nog sagte reën (sowat 4 mm ) tot
Woensdag toe.
Langfaan se mening is dat die droogte wel gebreek is, maar dat groot
veranderinge in die weerpatroon verwag kan word. Die ander gesig van droogte is
reënstorms soos nou oral in die noordelike halfrond gesien word, presies soos
hy die afgelope twee jaar al voorspel. En aan die kantlyn sê die weerkundiges
en manne wat die ruimte dophou, al dié dinge het te doen met ‘n geweldige
uitbreiding van die hemelruim. Iets wat dae sal vat om in ‘n koerantberiggie te
verduidelik.