“Wat sê ek vir my koning?” vra ’n onthutste Buthelezi
Die omstrede Ikonyama Trust, paghouer van tradisionele Zoeloe-stamgrond in KwaZulu-Natal, het in 1994, slegs enkele dae voor Suid-Afrika se eerste volle inklusiewe verkiesing tot stand gekom, nadat die onderhandelingsproses tussen die NP en die ANC op ’n mespunt was.
Hierdie skok-onthulling is sopas deur ’n sleutel-rolspeler in die aanloop tot die verkiesing, Danie Joubert gemaak. Joubert was die gasspreker op die Suidpunt-Erfenisverenging se maandelikse saamtrek in die Heemhuis op L’Agulhas.
Die jeugdige Danie Joubert was ’n gesekondeerde amptenaar na die KZN-regering waar hy spoedig adjunk-direkteur-generaal geword het, kort nadat hy na die departement van die hoofminister oorgeplaas is. Uit hoofde van sy posisie(s) was hy ten nouste gemoed in die onderhandelingsproses agter die skerms. In hierdie hoedanigheid was hy ’n deurslaggewende skakel in die magspel tussen die NP, met hulle leiersfigure F.W. de Klerk, Roelf Meyer en Pik Botha aan die een kant, en Nelson Mandela en Cyril Ramaphosa aan die ander kant. Tussen hierdie twee vure was daar die hoofman Mangosuthu Buthelezi van die Inkatha Vryheidsparty of IVP.
Nog ’n rolspeler was die Zoeloe-koning Goodwill Zwelethini. Van regeringsweë af was daar ook Niël Barnard, intelligensiebaas en vertroueling van De Klerk se voorganger, P.W. Botha. Dan was daar die sinistêre skadufiguuur Mario Oriani-Ambrosini, die sogenaamde regsadviseur van die KZN-regering. Ambrosinni was ’n flambojante Amerikaner van Italiaanse afkoms. Hy was glo ’n pierewaaier, lief vir die kalklig en het na bewering sterk bande met die Amerikaanse Intelligensiediens, die CIA (Central Intelligence Agency) gehad.
Die Nasionale Party moes ’n geskikte swart vennoot vind, want die verkiesing moes inklusief wees, maar die internasionale media het verwag dat Suid-Afrika in ’n oogwink in ’n bloedbad sou ontaard. “Hulle is uit Bosnië onttrek, waar daar ’n oorlog gewoed het, en het by die hordes hier aangekom, want die wêreldfokus het na Suid-Afrika verskuif,” verduidelik die voorsitter van die bewaringsvereniging, Danie Schutte in sy bekendstellingsrede.
Behalwe dat hy ’n advokaat is, was Schutte self minister van binnelandse sake onder die laaste wit regering en ’n kollega van De Klerk, Meyer en Botha (Pik). Danie Schutte, die minister, en Danie Joubert, die amptenaar, smee naarstiglik indringende strategieë oor ’n uitweg vorentoe nadat Buthelezi gedreig het om op die laaste nippertjie kop uit te trek. Hulle word onbaatsigtelik bygestaan deur dr. Willem Olivier, knap advokaat van Bloemfontein met sy briljante insig in Suid-Afrika se regstelsel. Vir die twee Danies staan een ding soos ’n paal bo water: ’n Verkiesing sonder IVP-deelname sou sinloos gewees het.
Teen hierdie agtergrond van politieke intriges en geskarrel vir posisies, vind die berugte Shellhouse-skietery plaas toe die ANC wild en wakker op IVP-lede losbrand. Talle mense word gedood. Hulle is nie die enigstes nie: In die drie jaar voor die verkiesing het politieke geweld hoogty gevier en het ’n geraamde 10 000 mense hulle lewens verloor. Dit was die tyd toe daar ook ’n verwoede aanslag op die sogenaamde tuislande en hulle leierskap was, met ANC se groot kokkedoor Ronnie Kasrils as die groot aanhitser. Ciskei en Bophuthatswana swig onder druk. Die Transkei is volgende in hul visier. Maar die grootste prys van almal, Zoeloeland en sy vorstelike heerser, bly onwrikbaar staan te midde van die dreigende chaos en anargie. Die Zoeloe-nasie het geïsoleer begin voel, want die persepsie het bestaan dat die ANC en die NP op hul eie trajek was. Boonop was daar groot onsekerheid in Zoeloe-geledere oor hoe die regering sou optree in geval van ’n inval in hul grondgebied.
Kortom: Terwyl die grootste politieke drama in Suid-Afrika se geskiedenis besig was om hom af te speel, het ’n sleutelrolspeler, die IVP, nie die onderhandelaars in die twee grootste partye, die NP en die ANC, by name Ramaphosa en Meyer, vertrou nie!
Vir Buthelezi was die vernaamste haakplekke die kwessie van eienaarskap binne tradisioneel-Zoeloe-grondgebied, en dan die Zoeloe-koningshuis.
“Wat sê ek vir my koning?” wou die hoofman onthuts van Joubert weet. En as Buthelezi gepraat het, het hy gepraat! Hy het hierdie vraag primêr gevra as ’n trotse Zoeloe-nasionalis. Daar was inderdaad grondige vrese in Zoeloe-geledere dat hul etnisiteit bedreig word te midde van die aardskuddende politieke polarisasie en klemverskuiwings. Vir Joubert was dit ’n tyd waar hy met vernuftige voetwerk moes navigeer tussen die stukke op die politieke skaakbord wat daar op daardie tydstip op Suid-Afrika se sosio-geografiese landskap geplaas was. Die datum vir die verkiesing was reeds vasgestel. “Ek het dit selfs aan Buthelezi gestel dat hy na die verkiesing oor ’n paar dae ’n permit sal nodig hê om in sy eie kantoor in te kom!”
Intussen het internasionale swaargewigte soos dr. Henry Kissinger en lord Peter Carrington van Brittanje ook op die toneel verskyn. In een stadium dreig Kissinger die IVP-span: As daar teen 16:00 op 14 April nog nie uitsluitsel is oor die pad vorentoe nie, vlieg ek terug Amerika toe! Suid-Afrika se voortgesette verhouding met die supermoondhede het aan ’n draadjie gehang. Joubert het tussen Ulundi en Pretoria beweeg om De Klerk-hulle van die jongste verwikkelinge in te lig. “Dit was in die dae voor selfone. Dit het so dol gegaan, daar het soms dae verbygegaan dat ek nie ’n woord met Lizelle (sy vrou) kon praat nie!” Intussen moes hy katvoet loop vir die immerteenwoordige en geheimsinnige Ambrosini. “Ek en Koos van der Merwe (latere Volksraadslid en lid van die IVP) het doelbewus Afrikaans gepraat in sy teenwoordigheid om hom te verwar. Op ’n kol vra hy vir ons: ‘Waaroor praat julle manne so intens?’ Toe sê ek sommer, man ons praat maar net oor die weer!”
Min mense besef vandag hoe na aan afstigting KZN was. Joubert onthul dat die geslepe Ambrosini reeds ’n plan vir sessering opgetrek het: “Hy het eenvoudig ’n lyn deur Natal getrek en wou Zoeloeland laat wegskeur uit Suid-Afrika! Hy het blatant gepraat van die soewereine staat van KZN!”
Maar die noodlot het reeds sy loop geneem . . .
“Ek onthou die oggend toe ons vir Buthelezi soek om hom weer aan boord te probeer kry, het hy geen telefoon geantwoord nie en was hy net skoonveld. Uiteindelik tel ons sy spoor by Lanseria-lughawe op, maar die vliegtuig het reeds vertrek. Later hoor ons die vliegtuig het tegniese probleme ondervind en moes omdraai! Gelukkig! Intussen moes ons dringend by F.W. uitkom, maar hy sê hy het reeds uiters belangrike afsprake daardie oggend, skaars ’n week voor die verkiesing. Maar ek en Danie (Schutte) hou in landsbelang voet by stuk en ons sit af na F.W. se huis, waar ons dit aan hom oordra dat ons nog die verkiesing kan red, as ons twee goed doen: Gee vir Buthelezi gemoedsrus oor die behoud van die Zoeloe-monargie, en laat hulle die de facto-gesag oor hul eie grondgebied wees. Dis toe dat ons besluit: Kom ons stig ’n amptelike trust vir die Zoeloe-grond!” Dit was ’n reusagtige strook land wat 2,8 miljoen hektaar beslaan het, groter as vele ander lande. Die gebied was reeds stamgrond, wat die latere administratiewe en wetlike prosesse vergemaklik het.
Die situasie was uiters plofbaar en ’n verkiesing sonder die IVP was ooglopend onafwendbaar – en ondenkbaar. Maar Danie Schutte, Danie Joubert en Willem Olivier oortuig De Klerk daardie kritieke oggend dat daar wel ’n uitweg moontlik was om ’n inklusiewe verkiesing te hou – met ’n totaal onortodokse benadering.
Toe gebeur die wonderwerk: Mangosthu Buthelezi was te vinde met hierdie voorstel. Hy kon koning Goodwil Zwlitinhi gerus stel dat sy gesag nie ondermyn of aangetas sou word nie.
Met koorsagtige haas word die staatsmeganismes aan die rol gekry; met Olivier aan die spits, word die land se beste regslui ingespan om die regs- en staatkundige aspekte vir proklamering van die Trust gereed te kry. Daar was ’n aantal onontbeerlike wetlike prosesse wat eers nagekom moes word. Die Wetgewende vergadering van KwaZulu onderskryf die Trust se stigting op 24 April 1994. Statutêr moes daar byvoorbeeld ’n stigtingsakte geskep word. Die Trust moes egter deur die regering van die dag geproklameer word. Die wetsontwerp beland op die staatspresident se lessenaar vir sy finale goedkeuring. As staatshoof plaas F.W. de Kerk sy handtekening op die dokument met die fleurige beskrywing van die KwaZulu-Natal Ingonyama Trust Act. En so kry die Zoeloes die onvervreembare reg op hul eie stamgrond, vergestalt deur ’n regsliggaam, die Inkonyama Trust.
F.W. de Klerk kon daardie aand oor ’n glasie J&B-whiskey – sy gunstelingdrankie, op ys – reflekteer oor hierdie historiese deurbraak en Suid-Afrika se staatskundige pad vorentoe.
Inmiddels word oudregter Johann Kriegler – voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie – in kennis gestel dat alles nou gereed is vir Suid-Afrika se eerste volwaardige demokratiese verkiesing op 27 April 1994. Op die Inkonyama Trust se webtuiste word dit onomwonde gestel dat die trust op die vooraand van die verkiesing gestig is. Dis egter twyfelagtig of die webmeester weet van die rolle wat ’n Danie Schutte, ’n Danie Joubert en ’n Willem Olivier gespeel het. Ikonyama is tot vandag toe in ANC-geledere ’n woord wat die ANC, veral president Cyril Ramaphosa, in sy koffie laat stik, want die Zoeloegrond is in hierdie trust geplaas onder die ANC se neuse, en sonder dat hulle dit geweet het! Vir die ANC het die hele idee van ’n afsonderlike volksidentiteit, oftewel ’n staat binne-in ’n staat, ingedruis teen hulle ideologie van ’n klaslose gemeenskap, en ’n een-mens-een-stem-stelsel binne ’n enkele eenheidstaat. Op die RSG-program Monitor, stel die politieke kenner verbonde aan die Universiteit van Pretoria, prof. Roland Henwood, dit op 20 Augustus 2024 onomwonde dat die kwessie van stamgrond die hoofrede is waarom die ANC in die pasafgelope verkiesing beduidende steun aan die MK-party met sy oorweldigende Zoeloe-steun en Zoeloe-identiteit, afgestaan het.
Kontemporêr is name soos Ulundi en Nkandla onuitwisbaar ingebrand in Suid-Afrika se politieke siel. Daardie plekke staan onbetwisbaar op Zoeloe-grond – onder die voogdyskap van die Ikonyama-Trust. Ironies genoeg volg Mangosuthu Buthelezi die einste Danie Schutte op as minister van binnelandse sake onder die nuwe Mandela-regering!
As dit nie vir mense soos Danie Joubert, Willem Olivier en Danie Schutte was nie, was die verkiesing hoegenaamd nie inklusief nie en was daar ’n wesentlike moontlikheid dat anargie die land kon verswelg.
In die parlement se Hansard-rekords van 25 April 1994 bedank Schutte sy twee makkers vir die deurslaggewende rolle wat hulle gespeel het.
En Ambrosini? Sy ware rol en motiewe is vandag nog omhul in ’n waas van geheimhouding.. Danie Schutte is ’n gesiene inwoner van Suiderstrand, neffens Afrika se suidelikste vuurtoring op Kaap Agulhas. Danie Joubert is vandag 66 en woon in Somerset-Wes. Dit was ’n lang pad van sy geboortestad, Pretoria, tot by die Hoërskool Gerrit Maritz in Pietermaritzburg, tot waar hy vandag staan aan die hoof van Afrika-operasies van Execujet, ’n internasionale maatskappy wat vliegtuie koop, verkoop en verhuur. Hy is wel gewapen met ’n MBA, maar sy grootste bate is sy ervaring en mensekennis, wat hy opgedoen het in die genadelose skool van onderhandelinge op die hoogste vlak, wanneer één verkeerde skuif, of één oordeelsfout, die dolosse vir jou verkeerd kan laat val . . .