Groot opgewondenheid het geheers toe die Botrivier-atletiekklub en sy atlete se nuwe uitrustings onlangs tydens ’n spesiale geleentheid aan die publiek bekendgestel is.
Mike Fraser, uitvoerende hoof van die Boland-atletiekunie, het die geleentheid bygewoon en die klub se bestuur geluk en sterkte toegewens.
Fraser het die bestuur sowel as die atlete gemotiveer. “As jy op enige gebied in jou lewe of vir enige doel ’n kampioen wil wees, moet jy die houding en die ingesteldheid ontwikkel.
“Kampioene word nie in gimnasiums geskep nie. Kampioene word gebore uit iets wat hulle diep binne-in hulself het – ’n begeerte; ’n droom; ’n visie.
“As jy ’n kampioen wil wees, moet jy soos een dink en praat, glo jy is ’n kampioen en soos ’n kampioen oefen en presteer.”
Louis Swartz, die voorsitter van die Botrivier-atletiekklub, het beklemtoon die klub se doel is om geleenthede vir die gemeenskap te skep om sukses te behaal ten spyte van die talle uitdagings en tekortkominge in die dorp.
Die klub, wat reeds in Mei 2023 gestig is, bestaan tans uit 14 atlete.
Die geleentheid is ook deur plaaslike gemeenskapsleiers, geestelike leiers, sakelui asook bekende sportpersoonlikhede bygewoon.
James Pheiffer van die Botrivier-gemeenskapsforum het ook komberse aan die klub oorhandig.
Swartz het ’n beroep op die atlete sowel as sakelui van oor die Overberg heen gedoen om die klub se eerste wedloop, wat vir 7 September beplan is, te ondersteun.
Die uitdaging staan bekend as die Van der Stelpas-uitdaging en is voorheen deur die Botrivier Education Foundation (BEF) aangebied.
Atlete kan vir die 21 km- of 10 km-wedloop of die 4,9 km-pretloop/pretdraf inskryf.
Pryse sal ook op die spel wees.
Diegene wat belangstel om by die klub aan te sluit of by die Van der Stelpas-uitdaging betrokke te raak, kan aanlyn registreer by entryninja.com of die sekretaresse, Jenny Swartz, vir enige navrae by 084 077 2759 of Louis Swartz by 072 060 0967 of Eddie Jansen (ondervoorsitter) by 063 714 7665 of botrivierathleticsclub@ gmail.com kontak.
Besoek die Botrivier Athletic Club Facebook-blad vir meer inligting oor die klub.