Nadat ontevrede inwoners die Grabouw-verkeersafdeling se gebou in 2016 afgebrand het, is die inwoners van Grabouw vir jare verontrief.
Grabouw-inwoners het erg onder die verlies van ’n verkeersafdeling gebuk gegaan al is ’n tydelike lisensiekantoor intussen geopen.
Maar nou – amper 10 jaar later – is die nuwe toetssentrum op 4 Maart geopen.
Volgens die munisipale bestuurder van die Theewaterskloof-munisipaliteit, Wilfred Solomons-Johannes, is die opening van die nuwe toetssentrum ’n positiewe stap om in die behoefte van inwoners te voorsien. “Die sentrum sal ’n reeks dienste aanbied soos onder meer die hernuwing van rybewyse, aansoeke vir nuwe bestuurderslisensies, oogtoetse en aansoek vir leerlinglisensies,” het hy bygevoeg.
Volgens die direkteur van vervoer-administrasie en lisensiëring van die departement van mobiliteit, Randal Barreiro, het die brand, wat die toetssentrum in 2016 in puin gelê het, ’n groot verliesveroorsaak – nie net vir Grabouw-inwoners nie, maar ook vir die Theewaterskloof-munisipale gebied. “Ons het die verlies net soos julle gevoel, maar vandag deel ons die blydskap en is ons bly dat ons die diens weer aan mense in die gemeenskap kan lewer,” het hy gesê. “Om ’n bestuurderslisensie te hê, is baie belangrik en dit kan jou lewe onherroeplik verander; dis waarom die diens vir almal so belangrik is.”
Volgens die onderburgemeester, John Michels, ook ’n inwoner van Grabouw, is hy baie dankbaar dat die toetssentrum nou heropen het, want die inwoners moes ver ry vir die diens. “Die gebrek aan ’n toetssentrum was baie ongerieflik vir inwoners aangesien baie van hulle nie vervoer gehad het om by ’n toetssentrum uit te kom nie, en met die opening van die nuwe toetssentrum bring dit ’n nodige diens na die dorp,” het hy bygevoeg.
Die toetssentrum sal van Maandae tot Donderdae van 08:00 tot 15:00 oop wees en Vrydae tot 12:45. Besoek www.twk.gov.za vir meer inligting. Die adres van die toetssentrum is in Rykestraat 3, Grabouw, langs die Grabouw-biblioteek.