As deel van die Holy Trinity- Anglikaanse kerk in Caledon se feesvieringe vir sy 174ste bestaansjaar, het die Oase-dienssentrum Maandag 20 November ’n konsert in die kerksaal aangebied.
Nie net is verskeie sangitems gelewer nie, maar ook ’n paar kort sketse wat die toeskouers laat skaterlag het.
Die Oase-lede het lank geoefen aan al die verskillende items en dit op die betrokke aand met oorgawe met die gehoor gedeel.
Van die deelnemers was kort duskant 80 jaar oud, maar te oordeel aan hulle flinke danspassies, sou hulle gewis vir menige jonger persone “ ’n ding of twee” kon leer.
Die gesegde “oud maar nog lank nie koud” is gewis nog van toepassing op die lewenslustige senior burgers van die Oase-dienssentrum.