Die Overberg kon hierdie jaar pronk met die feit dat twee plaaslike vrouerugbyspelers in die Springbok-vrouespan en die o.20- junior Springbok-vrouespan opgeneem is.
Zena Swart, wat vir die Walkerbaai-vrouerugbyklub en ook vir die Boland-vroue uitdraf, was een van dié spelers. Die ander een is Aseza Hele, wat in die Springbokke se onlangse oorsese toer teen Fidji, Frankryk en Engeland uitgeblink het.
Hele het ook verlede week haar buiging vir die Springbok-sewes gemaak.
Thomas Chowles, Boland-vrouerugby se hoofafrigter, het beklemtoon dat Hele, ook bekend as Blommie, die eerste speler in die geskiedenis is – hetsy manlik of vroulik – wat direk uit die Boland-rugbyunie in ’n Springbokspan opgeneem is. “Sy het nie soos ander spelers, manlik of vroulik, eers vir die WP of enige ander span gaan speel voordat sy in die Bokspan opgeneem is nie,” aldus Chowles.
Chowles het dié nuus by die Boland-vroue se prysuitdeling, wat onlangs in Hermanus gehou is, aangekondig. Verskeie spelers is by dié geleentheid vir hul rugby-prestasies vereer.
Yola Lumko, die Walkerbaai-vrouerugbyspan se kaptein, het ook amptelik die Saru-vroueklub-rugbykampioen-beker namens haar span, wat dié toernooi gewen het, ontvang. Yola is ook as Boland-vroue se voorspeler van die jaar sowel as die klub se speler van die jaar aangewys.
Swart, wat nes Hele agsteman speel, is as Boland-vroue se deurbraakspeler aangewys en Theresa “Trixie” Ruiters is as die klub se agterspeler van die jaar aangewys. Sy het ook ’n sertifikaat ontvang vir die “Non-Try” van die jaar. Dit, het Chowles verduidelik, het sy verdien toe sy tydens ’n wedstryd teen die Sharks gekeer het dat ’n teenstander ’n drie onder die pale druk.
Anita Tom is as Walkerbaai se klubspeler van die jaar aangewys en Keishia Stuurman as die speler wat die meeste verbetering getoon het. Doney Fielies is as die junior sewes-speler van die jaar en Anelca Hess as die senior sewes-speler van die jaar aangewys.
Chowles het afgesluit deur te sê hy is oortuig dat die Boland-vrouespan en die Walkerbaai-vrouespan talle talentvolle spelers het wat nes Zena en Hele ook eendag in die Springbokspan opgeneem kan word.