As Suid-Afrika se grootste uitvoermaatskappy wat appels en pere betref, het Tru-Cape Fruit Marketing meer as 7 000 hektaar onder appels en pere.
Ons verteenwoordig omtrent 20% van die Suid-Afrikaanse appel- en peerbedryf in Suid-Afrika,” vertel die besturende direkteur van Tru-Cape, Roelf Pienaar. “Daar word tans geoes en hoewel dit nog vroeg is, kan ons ‘n goeie oes verwag. Ons toon groei in die regte variëteite. Volgens Pienaar is een van die grootste struikelblokke die logistiek rakende die voorsieningsketting. Die styging van kostes soos brandstof ens. gaan ook ‘n groot invloed volgens hom hê.
“Hierdie verhogings is wêreldwyd. Die kostes gaan nie net oor vragkostestyging nie, maar ook die produksiekoste wat die jaar met meer as 15% gestyg het,” vertel Pienaar. “Wêreldwyd gaan ander appel- en peerprodusente veral in Chile en Nieu-Seeland onder dieselfde probleme gebuk. Verlede jaar het Tru-Cape byna 18% meer uitgevoer as die vorige jaar, maar die impak van die hoër vragkoste en ander logistieke uitdagings kan die bedryf hierdie jaar dalk swaar tref.”
Maar volgens Pienaar bly hulle positief en sal hulle enige struikelblok wel kan oorkom.