’n Onlangse vergadering oor die waterkwessies in Bettysbaai het benadruk wat die gemeenskap van die kwessie dink en watter uitdagings werklik bestaan.
Bettysbaaiers moes die afgelope paar jaar gereeld sonder water oor die weg kom omdat ’n pyp iewers gebars het.
Dr. Annelie Rabie, Overstrand-munisipaliteit (OM) se burgemeester, en Theresa Els, die plaaslike raadslid in Bettysbaai, asook Grant Cohen, die speaker, het saam met ’n span wat aan al die pype in die omgewing werk, op 20 Januarie ’n openbare vergadering met inwoners by die Crassula-saal in Bettysbaai gehou. Die begroting van R25 813 702 om al die pype in die tydperk van 2009 tot 2022 te vervang, het inwoners geskok – party voel al die waterkwessies in Bettysbaai moes al opgelos gewees het. Nog R48 252 830 is vir 2009 tot 2022 begroot vir Rooiels, Pringlebaai, Kleinmond, Stanford en Hermanus.
“Iewers is ’n fout met wat met Bettysbaai se water aangaan,” sê Rabie. Ek is nie oortuig dit is ‘ageing infrastructure’ nie; ek het ’n vermoede dis ’n bestuur-probleem. Ons het ons bes gedoen om alle inligting aan die gemeenskap te gee, soos hoeveel pypbreuke daar was en hoeveel geld beskikbaar is, maar daar is ’n algehele agteruitgang en verval van die infrastruktuur.”
Rabie sê sy gaan die munisipale bestuurder vra om met die departement van plaaslike regering te praat om uit te vind of die Overstrand-munisipaliteit ’n ingenieur kan kry om na die hele stelsel te kom kyk.
Die gemeenskap het ook gewonder waarom die OM sulke klein spanne het.
“Ons het ook net soveel mense wat die werk kan doen. Ons het nie onbeperkte bronne nie. Hulle moet soms op meer as een plek wees,” sê Rabie. “Een ding wat ek uit die vergadering wil neem, is om uit te vind wat is die belasting, dienstegeld en beskikbaarheidsgeld wat in elkeen van die dorpe genereer word. Wat is die kapitaal en operasionele uitgawes wat teruggaan in daardie gebiede? Ek dink as ’n mens daar begin, kan jy dit bestuur, want jy kan dit meet.”