DNS-toetse word gedoen om die identiteit van beendere wat op die oewer van die Badsrivier in Caledon gevind is te bepaal.
Kol. Joe Hartnick, waarnemende bevelvoerder van die Caledon-polisie, het bevestig dat ’n persoon wat in die omgewing van die brug naby die dorp se begraafplaas gewerk het, Donderdag 26 Januarie op ’n skedel afgekom het.
Nadat die persoon die polisie ontbied het en verdere ondersoek ingestel is, is die res van die geraamte ’n ent verder ontdek.
“Die patologiese verslag dui aan dat die beendere dié van ’n middeljarige vrou is en dat die liggaam reeds vir nege maande of meer in die buitelug was,” het Hartnick verduidelik. “Die vermoede bestaan dat die liggaam moontlik met die rivier langs afgespoel het.”
Die polisie doen ’n beroep op enigeen met ’n geliefde wat vermis is en aan die beskrywing voldoen, om die ondersoekbeampte, adjudant-offisier Alfred Barlow, by 028 214 3900 of kol. Hartnick by 082 778 7367 te bel.