Gewone raadsvergaderinge kan óf langdradig en effens vervelig wees, maar by tye kan daar ook luidrugtige gesprekke en stomende woordewisseling plaasvind.
Dit was die geval by Vrydag 25 Februarie se gewone raadsvergadering van die TWK-munisipaliteit waar die DA ’n mosie ingedien het om die onderburgemeester, John Michels, uit sy amp te verwyder.
In ’n luidrugtige betoog, wat die beherende koalisie-raadslede sowel as toeskouers in die galery by tye laat skater het van die lag, het raadslid Sammy Fredericks, DA-sweep, gesê hulle wil die mosie om die onderburgemeester uit sy amp te laat verwyder terugtrek omdat hulle “verdere ondersoek na beweerde ongerymdhede” wil doen.
Die speaker Derick Appel het verduidelik dat ’n mosie wat reeds in die agenda opgeneem is, nie bloot teruggetrek kan word nie.
Die mosie om die onderburgemeester uit sy amp te verwyder, is tydens ’n stemming deur die meerderheid van die raadslede verwerp.