“We want Mr Henn, nobody else!”
Dít was die eis van ’n groep inwoners van Hawston wat verlede week ’n vreedsame optog na Hawston Primêre Skool gehou het om hul ontevredenheid rakende die kandidate op die kortlys vir die posisie as skoolhoof te kenne te gee.
Die betogers het ook ’n petisielys met hul eise, wat deur talle inwoners geteken is, aan die skoolbeheerliggaam se sekretaresse, Portia Booysen, oorhandig. Meer as 700 mense het ook ’n aanlyn petisie geteken om hul steun aan Japie Henn, die waarnemende hoof, te gee.
Charles Rosant, wat die optog gelei en die petisie opgestel het, vra hoe dit kan wees dat iemand wat as hoof waarneem, nie op die kortlys is nie. Nog ’n inwoner het ontevrede bygevoeg dat Henn al 23 jaar by die skool onderwys gee.
Volgens Rosant soek hulle ’n “deursigtige proses” aangesien daar beweer word dat die pos “reeds aan iemand belowe is”.
“Ons eis dat meneer Japie Henn ’n regverdige kans gegun word aangesien hy die sosiale omstandighede van hierdie gemeenskap verstaan,” lui die petisie.
“In die drie maande wat meneer Henn as hoof waargeneem het en ook in die posisie as onderhoof, het hy aan ons as die gemeenskap bewys hy is passievol, lojaal en gee om vir die skool, elke leerder, die personeel en die gemeenskap.”
Millicent Merton, woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), het bevestig dat die kringbestuurder hierdie week met lede van die gemeenskap wat by die petisie betrokke was, sal vergader.
Merton het verduidelik dat die skool se beheerliggaam in beheer is van die proses om geskikte kandidate vir die pos as skoolhoof te werf en te keur.
“Die departement het ’n WKOD-verteenwoordiger wat tydens die proses teenwoordig is. Die beheerliggaam maak ’n aanbeveling aan die afgevaardigde en die hoof van die departement keur die aanstelling goed,” het sy bygevoeg.
Merton kon nie bevestig of die kandidate op die kortlys nie inwoners van Hawston is nie – soos beweer word – en gesê “die proses is vertroulik”.
Volgens Merton sal ondersoek ingestel word indien die proses onregverdig is.
Dit is onbekend wanneer ’n nuwe hoof vir Hawston Primêr aangestel sal word aangesien die werwings- en keuringsproses nog nie afgehandel is nie.