Dis maklik om ’n onderwyser te wees, maar om jou eie skool te begin, ’n konsultant te wees, te studeer en nog ’n enkelma ook, verg ’n visie, passie en baie dae se saamkuier om ’n koppie sterk koffie.
Khula Learning Centre in Bredasdorp is die droom van Jeanine Botha en Hilde Reeders, en ná min slaap en hope trane het die harde werk vrugte afgewerp en Jeanine is vir Mail and Guardian se 200 Young South Africans benoem.
Mail and Guardian identifiseer al amper langer as twee dekades 200 jong Suid-Afrikaners wat ’n positiewe impak in hul gemeenskap maak, en dié eer het Jeanine te beurt geval.
“Khula Learning Centre is die droom van twee onderwysers wat hul passie vir kinders, perde en sterk koffie deel. Nadat ons besef het ’n groot behoefte bestaan vir ’n skool met klein klassies en waar individuele aandag belangrik is, het ek en Hilde besluit om ons droom vlerke te gee en ons het ons leersentrum in Bredasdorp begin. Met ons onderwysagtergrond het ons geweet dat ’n geweldige behoefte aan só ’n skool in Bredasdorp bestaan – veral vir kinders van die omgewing. Ons is oorweldig deur die ondersteuning en navrae wat ons ontvang het. In Januarie 2020 het ons gesê ons sal tevrede wees as ons vyf voltydse leerders het; vandag sit ons met 35 leerders van graad R tot graad agt en vyf voltydse onderwysers,” vertel Jeanine.
Dié boorling van Pretoria het in Gqeberha grootgeword, in Stellenbosch gaan studeer en in 2019 na Bredasdorp verhuis, en sê familie is vir haar baie belangrik.
“My pa, wat ook my grootste ondersteuner is, en my kreatiewe ma met haar warm persoonlikheid, het ons kinders geleer om op te staan vir dit wat ons glo en om ons drome te verwesenlik. My lewe is baie besig op die oomblik – ek werk nie net voltyds by die leersentrum nie, maar ek is ook betrokke as konsultant by Jeanine Roux Consulting, waar ek gesinne ouerskapleiding gee, ek is besig om my meestersgraad in vroeëkinderontwikkeling te doen en ek is ’n enkelma van ’n 15 maande oue seuntjie, wat my om sy pinkie draai,” vertel sy.
In haar besige lewe het sy ook tyd vir ’n bietjie ontspan en sy spot haar gunstelingtydverdryf deesdae is om tussen die rondhardlopery vinnig ’n uiltjie te knip. “Ek was nog altyd baie lief vir lees en het enigiets gelees wat ek kan, maar tussen die studies en my seuntjie deur, kry ek nie meer so baie tyd vir lees nie. As ek wel ’n ruskansie kry, geniet ek dit om my oë so ’n bietjie toe te maak.”
Bredasdorp is ook die plek wat sy huis noem en sy geniet die dorp en sy mense baie. “Ons het geen verkeer in ons dorp nie en jy kan altyd parkeerplek kry. Die munisipaliteit is tops, en met sy ondersteunende gemeenskap wat in moeilike omstandighede saamstaan, is dit ’n heerlike dorp om in te woon. En natuurlik is die koffiewinkels met hul heerlike koffie en koek ook ’n bonus,” vertel sy.
Haar toekoms lyk rooskleurig en sy wil graag haar meestersgraad in sielkunde in 2023 voltooi sodat sy ’n opvoedkundige sielkundige kan word, en sy wil ook haar MBA in gesondheidsorgleierskap in Stellenbosch doen. “Afgesien van my studies wil ek ook Khula na nuwe hoogtes neem, waar ons ’n bekostigbare opvoedkundige model vir almal in die Overberg kan bied,” vertel sy. . Khula Learning Centre: Khula provides educational support services to home school learners, using IMPAQ’s products and services. IMPAQ is a CAPS-based curriculum that provides an academic framework, which allows each learner to work at his or her own pace. This is especially effective for learners who require more intensive academic support. Our learning centre makes provision for all learners, also those who experience barriers to learning. We accommodate learners with apraxia, dyslexia, ADD/ADHD, developmental delays, sensory processing disorder and low-support autism.