Die goeie nuus oor die instandhouding van die Onrus-strandmeer duur voort.
Hermanus Times het op 22 Januarie ’n berig geplaas oor die Onrus River Estuary Forum (OREF) wat die Overstrand-munisipaliteit (OM) se Onrus-estuarium se instandhouding-en- bestuursplan ten volle steun (“Instandhoudingsplan vir Onrus vind wyd byval”, Hermanus Times, 22 Januarie 2025).
Volgens die OREF bied die instandhouding-en-bestuursplan ’n oplossing om die watervloei te herstel, watergehalte te verbeter en die natuurlike habitatte vir water- en voëlspesies weer te laat toeneem. Verder is die doelwit van die instandhoudingsplan ook om die verspreiding van indringerplante die hoof te bied asook die rehabilitasie van die natuurlike inheemse plantegroei aan te moedig.
Nou het die OM ook verder bekend gemaak dat hy finansiering gekry het om die Onrus-strandmeer en die omliggende vleilande te rehabiliteer. Die skenkings sluit byna R1,5 miljoen in van die Verenigde Nasies se omgewingsprogram en R5 miljoen se steun van die Breede-Olifants-opvangsbestuursowerheid.
“Aangesien die herstel van die Onrusrivierstelsel en vleilande grootliks afhanklik sal wees van die suksesvolle hergroei van palmiet, het die White Desert-stigting in Brittanje ook ingestem om hierdie koolstof-bergingsprojek te ondersteun deur geld te gee om kwekerye te stig om hierdie inheemse plante op groot skaal te kweek,” het die munisipale bestuurder, Dean O’Neill, gesê.
Die doel is volgens O’Neill om tot 150 000 plante te kweek. “Die OM se omgewingsbestuur- en bewaringsafdeling sal die finansiering bestuur en die projek monitor om sodoende te verseker dat alle beleide nagekom word,” het O’Neill gesê.