Die landbousektor het met die helfte verklein. Inwoners is ongelukkig oor onwettige mynbedrywighede. Rehabilitasie van oudmyne sloer. Korrupsie by myne duur voort . . .
Dit is maar net ’n paar van die opskrifte oor die myne in Noordwes, Mpumalanga en Gauteng wat in koerante oor die afgelope jare gepryk het. En nou blyk dit dis dalk die voorland van die mooie Overberg nadat die mynmaatskappy Cienth (Edms.) Bpk. aansoek gedoen het om mynregte op 4 000 ha buite Napier in die Kaap Agulhas-munisipale distrik. Volgens die aansoek gaan hulle vir 30 jaar die reg hê om vir goud, silwer en tin te myn.
Nicholas Myburgh, die DA se kiesafdelingshoof van die Kaap Agulhas-munisipaliteit, het sy kommer oor die voorgenome mynbedrywighede uitgespreek.
“Ek het met die grootste kommer kennis geneem van die nuus van ’n aansoek deur die mynmaatskappy Cienth (Edms.) Bpk. vir prospekteerregte op meer as 4 000 hektaar wes van Napier.
“Omgewingskenners is dit eens ’n oopgroefmyn in die gebied sal nie net ’n ernstige risiko vir werksgeleenthede in die plaaslike landbou- en toerismesektore inhou nie, maar sal ook ’n groot rol speel in die komplekse ekostelsel en die sensitiewe biodiversiteit van die hele gebied tussen Napier en die kus,” het hy in ’n persverklaring gesê.
Bewyse van oor die land heen het al getoon dat mynbedrywighede ’n groot invloed op die ekostelsel het. Verskeie vleilande, landbougrond en woude het al in die slag gebly met oopgroefmyne wat soos talle gapende wonde in ander dele van die land ontstaan het. Volgens ’n verslag van die World Wide Fund for Nature (WWF) wat in 2019 uitgereik is, het mynbedrywighede ’n blywende invloed op die omgewing en dit kan nie omgekeer word nie. Volgens die verslag bly die suksesvolle sluiting van myne en rehabilitasie van die grond ’n onoplosbare uitdaging in Suid-Afrika ondanks die feit dat wetgewing wel bestaan wat die rehabilitasie van myne wat nie meer in gebruik is nie, verseker.
En dit is presies wat inwoners en omgewingsaktiviste onthuts laat as hulle van die voornemende mynbedrywighede in Napier hoor. Myburgh verduidelik: “Nie net sal die opvangsgebied van die Karsrivier, ’n uiters belangrike waterweg vir die streek, negatief beïnvloed word nie, maar die hoogs sensitiewe en wêreldbekende vleilande van die Agulhas-vlakte kan ook nadelig geraak word.”
Volgens hom kan die korttermyn-finansiële gewin vir ’n paar uitgesoektes nie die blywende skade wat mynbedrywighede aan die omgewing gaan aanrig, regverdig nie.
“Daarom is dit van uiterste belang dat alle belanghebbende partye hande vat om hierdie, en enige ander soortgelyke aansoeke, met alle middele tot ons beskikking te beveg,” het hy gesê.
Navorsing het al bewys mynbedrywig-hede is nie ekonomies volhoubaar nie, maar is net ’n korttermynoplossing.
Die boere het ook hul kommer oor die kwessie uitgespreek. Volgens een van die boere is hulle een van die hoofverskaffers van kleingraan en gaan mynbedrywighede definitief ’n invloed op hul produksie hê. “Nie net gaan boere hul familiegrond verloor nie, maar landbou, wat reeds onder druk is, gaan nog meer druk ervaar en dit kan ’n rol in voedselsekerheid speel,” het ’n boer verduidelik.
In ’n YouTube-video wat op sosiale media die ronde doen oor die voornemende mynbedrywighede, word klem gelê op die bedreigde fynbos en renosterveld in die omgewing, wat in die slag sal bly as ’n oopgroefmyn daar toelaat sou word. Die omgewingsbewustes se bekommernis is volgens die video dat meer as 80% van die aansoeke goedgekeur word en dat dit ’n invloed op toerisme en die omgewing gaan hê.
Volgens Pierre de Villiers van Cape Nature gaan die myn ’n negatiewe invloed op die riviere en ondergrondse water hê en ook dan later oorspoel na die see.
Vir nog inligting oor die voorgenome mynbedrywighede en hoe dit ’n invloed op die omgewing gaan hê, kyk gerus Stop Napier Mining op YouTube en luister na die bekommernisse van die inwoners.