Drie huise in Zwelihle in Hermanus is aan die brand gesteek nadat ‘n erg ontbinde lyk van ‘n vrou by Camphill in die Hemel-en-Aarde-vallei gevind is. Volgens kaptein Fadila September, woordvoerder van die Hermanus-polisie, het ‘n inwoner op die lyk afgekom nadat hy gras gesny het. Sy het ook bevestig dat daar twee verdagtes in hegtenis geneem is, maar sê hulle is later vrygelaat nadat hulle ondervra is en daar te min bewyse teen hulle is. “Ons gaan voort met die ondersoek,” het sy gesê. Nadat die inwoners van Zwelihle gehoor het dat die verdagtes vrygelaat is, het van hulle die huise van die verdagtes aan die brand gesteek.
Die lyk is volgens September moontlik dié van die 21-jarige Sisipho Mayile. DNS-toetse moet nog gedoen word om dit te bevestig, maar alle aanduidings is daar dat dit wel dié van Sisipho is. Volgens Sisipho se stiefpa, Zukisa of Zuks Fono, is hulle baie geskok. “Ons soek nie meer na haar nie, sy is weg,” het hy gesê. Volgens hom het Sisipho meer as ‘n week gelede verdwyn. “Ek het haar laas op 14 Januarie gesien. Toe sy die volgende oggend nie huis toe kom nie, was ek nie bekommerd nie, want ek was vas oortuig dat sy by haar vriend oorslaap,” het hy gesê. Volgens hom het hulle die Sondag begin bekommerd raak toe sy steeds nie huis toe gekom het nie.
“Ons het haar verskeie kere probeer bel, maar haar foon het net gelui,” vertel hy. “Maandagoggend het haar foon direk oor na haar stemboodskap gegaan. Ek het foto’s op sosiale media geplaas en haar as vermis by die polisie aangemeld.” Toe Fono Maandag 24 Januarie hoor van die lyk wat by Camphill in die Hemel-en-Aarde-vallei gevind is, het hy die ergste verwag. Die familie het na die polisie gegaan en gevra om die lyk te sien, maar hulle het nie toestemming daarvoor gegee nie.
“Die Maandag het die polisie ons gebel. Ons was nie toegelaat om die lyk te sien nie, maar die beskrywing van haar klere ens. het met dié van die lyk ooreengestem. Die persoon wat haar lewe geneem het, het ons familie erg skade berokken. Die feit dat haar lewe so vinnig kortgeknip is, is moeilik vir die familie om te verwerk. Sy het op 6 Januarie haar 21ste verjaardag gevier en ons het nog daardie Saterdag vir haar ‘n partytjie gehou. Ons was almal so gelukkig, min wetende wat op haar wag,” het Fono hartseer gesê. Hy bedank die gemeenskap vir hulle hulp en bystand.