Ontsnap uit die hel

Hy speel en lag net soos enige ander normale kind van sy ouderdom. Maar diep in sy psige dra Anele (skuilnaam) steeds die littekens wat gesinsgeweld op hom gelaat het.


Hy speel en lag net soos enige ander normale kind van sy ouderdom. Maar diep in sy psige dra Anele (skuilnaam) steeds die littekens wat gesinsgeweld op hom gelaat het.

Dié vierjarige seuntjie moes in die eerste twee jaar van sy lewe daagliks hulpeloos toekyk hoe sy pa sy 39-jarige ma rondruk, slaan en verbaal mishandel. Hy self dra ook fisieke littekens van een so ’n aanval toe sy pa hom een aand tydens ’n struweling gegryp en seergemaak het. “Hy het sy humeur verloor omdat my baba gehuil het toe hy my slaan. Hy het die baba gegryp en sy kop teen die muur gekap. Hy het geskree ek is ’n heks en dat hy my seun van my sal wegvat,” vertel Anele se ma.

Nadat haar seun uit die hospitaal ontslaan is, het Thandi (skuilnaam) ’n klag by die polisie aanhangig gemaak en by die hof vir ’n beskermingsbevel aansoek gedoen. Dit, sê sy, het nie veel gehelp nie. Haar lewensmaat het ’n paar weke agter tralies deurgebring “maar is vrygelaat omdat dit die begin van die Covid-19-pandemie was en die tronke was klaar oorval”.

Elke keer dat sy die aanrandings by die polisie aangemeld het, sê Thandi, moes sy dit ontgeld. “Sy suster wat ’n polisievrou is, het altyd gesê ek moet hom vergewe, want hy is die hoof van die huis. Ek het later nêrens gehad om heen te gaan nie, want as ek gevlug het, het hy die huis waar ek was se vensters kom stukkend gooi. Dit het gelyk asof ek die moeilikheidmaker was. Hy het ’n goeie werk gehad en het ’n mooi kar gery. Hy was altyd nice met ander mense, hy was ’n wolf in skaapklere.”  Sy is ook emosioneel afgetakel tot die punt dat sy alle selfvertroue en hoop op ’n beter toekoms verloor het. Haar lewe was hel.

“As hy dronk was, het hy my geslaan. Hy het elke keer vergifnis gevra en omdat ek sag is en nie grudges hou nie, het ek hom elke keer vergewe. Hy het my blameer en gesê ek het hom provoke, hy het dit blameer op bose geeste wat veroorsaak dat ons baklei. Maar hy was die duiwel self. Om in sy gesig te kyk terwyl hy jou slegsê en slaan …”

Sy bly ’n rukkie stil en vertel dan verder “ …jy sien sy gesig en sy oë verander tot jy hom nie meer herken nie.”

Een dag, nadat hy haar met ’n mes gesteek het, het Thandi besluit om haarself te verdedig. “Ek het die mes gevat en hom ook gesteek,” vertel sy. Die ironie van die saak, sê Thandi, is die feit dat sy ses maande gevangenisstraf moes uitdien hoewel sy haarself net wou verdedig na jare van mishandeling aan sy hande. Na haar vrylating het die wrede siklus van mishandeling en opmaak voortgegaan. Sy moes eers die dood in die gesig staar voordat sy besluit het om van haar geweldadige lewensmaat te ontsnap en ’n nuwe lewe vir haar en haar seun te skep.

“Hy het my gewurg totdat ek myself natgemaak en my bewussyn verloor het. Die bure het kom kyk wat fout is, want hulle het die bakleiery gehoor en toe raak dit net stil. As dit nie vir hulle was nie, het hy my doodgemaak. Toe ek in die hospitaal wakker word, het ek besef ek moet van hom af weggaan voordat ek ses voet onder die grond opeindig. Ek het besluit genoeg is genoeg.”

Sy het gevlug na ’n Bolandse dorp waar sy by familie gebly en werk gekry het. Toe sy hoor dat ’n vreemde man haar gesoek het, het Thandi weer haar karige besittings gepak en met haar seun op die vlug geslaan. Sy glo God het haar beskerm toe sy geryloop het.

“Die man het gevra waarheen ek wou gaan. Ek het vir hom gesê enige plek waar ek veilig sal wees,” vertel Thandi. Die weldoener het haar in Hermanus afgelaai en Thandi het by die plaaslike polisie om hulp aangeklop.

“Hulle het gesê hulle kan my nie help met ’n plek vir my en my kind om te bly nie. Daar was net ’n plek van veiligheid vir my seun, maar ek wou nie van hom af geskei wees nie. Ek het buite in die reën met my kind gesit. Ek het gebid en vir die Here gesê Hy het belowe dat Hy my nooit in die steek sal laat nie, nou is die tyd om my te red,” vertel Thandi.

Asof haar gebede verhoor is, het Lana O’Neill, stigter van die NPO Heavenly Promise wat werk met weerlose en mishandelde vroue en kinders, tot haar redding gekom.

“Nadat ek vir haar vertel het wat fout is, het sy by die polisiekantoor ingegaan en die wêreld vir hulle warm gemaak,” vertel Thandi. “Lana is ’n warrior en ’n held. Sy het my gered en na ’n plek van veiligheid geneem.

”By die plek van veiligheid het die pad na heling vir Thandi en haar seun begin. Sy gebruik nou haar verhaal van pyn en beproewing om ander vroue uit dieselfde situasie te help. “I have turned my tests into testimony!” beklemtoon sy.

“As ek nie ontsnap het nie, sou ek en my kind dood gewees het. Die enigste een wat jou kan red, is jyself. Daardie man sal nooit verander nie. Praat met iemand oor jou situasie voordat dit te laat is en jy ses voet onder die grond lê. Doen dit vir jou kinders en geliefdes se onthalwe. Iemand sal tot jou redding kom.

“Vandag is my seuntjie baie gelukkig. As ek na hom kyk, besef ek ek het die regte keuse gemaak om te ontsnap.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.