’n Saak het altyd twee kante, en dit blyk ook die geval te wees met die inwoners van Paradisepark en Magna Business Services (Pty) Ltd t/a Sable Cape, die maatskappy wat nou die grond beheer.
Die Wes-Kaapse hooggeregshof het op 20 April ’n geskrewe uitspraak van 45 bladsye uitgereik om lig op die donker onderwerp te werp. Dit is volgens dié uitspraak duidelik dat die geskiedenis rakende die ongeveer 285 huishoudings, wat deur die uitsetting geraak word, ingewikkeld is. Dié hofsaak, wat nou al ses jaar duur, het argumente en bewyse van albei kante aangehoor.
Volgens die prokureurs van Magna Business Services (Pty) Ltd t/a Sable Cape het die hof die wetlikheid van die inwoners ondersoek en bevind die vorige eienaar, Raymond Schonegevel, het die huurooreenkomste met die inwoners regmatig gekanselleer. Daar was na bewering verbale ooreenkomste, sowel as sekere geskrewe drie-jaar-huurkontrakte tussen die vorige eienaar en die inwoners. Schonegevel is oorlede voordat hy in die hof kon verskyn, maar sy dogter het in Julie 2021 getuig dat geen verbale huurooreenkoms van 99 jaar met die inwoners bestaan nie.
Die hof het dus beslis dat die inwoners Paradisepark onwettig beset weens die feit dat hulle geen wettige reg het om daar te bly nie, maar ook omdat hul strukture en verblyf daar onwettig is weens die feit dat die indruis teen die munisipale soneringsregulasies en -wette.
Die ontwikkelaars het ook volgens die prokureurs uit hul pad gegaan om die huishoudings by te staan ten einde hulself te hervestig, maar dit is ook van die hand gewys.
Die inwoners van Paradisepark het ook volgens die prokureur alles in hul vermoë gedoen om die saak te laat sloer, soos byvoorbeeld die hele tyd van prokureurs te verander en selfs die regter te beskuldig dat hy bevooroordeeld is.
Die hof het beslis die huishoudings van Paradisepark moet drie maande gegun word om alternatiewe behuising te vind.
Volgens die uitspraak moet die inwoners wat nie ander behuising kan bekostig nie, binne ’n maand by die Overstrand-munisipaliteit aansoek vir behuising doen. .Lees die volledige brief van die ontwikkelaar, Sarel van Niekerk, op Netwerk24.