Lede van die Hawston-gemeenskapsforum het Saterdag ’n skoonmaakoptrede by een van die ingange gehou.


Inwoners van Hawston het verlede week hande gevat, tuinvurke, grawe, handskoene en swartsakke nader getrek om rommel by een van die ingange na die dorp as deel van die Hawston-gemeenskapsforum se Operasie Skoonmaak op te tel.

Griffon Damon, die skakelbeampte van die Hawston-gemeenskapsforum, sê ongeveer 120 tot 130 sakke vullis sowel as twee waens vol takke wat afgesaag is, is weggery.

“Die opkoms was nie so goed nie, maar inwoners wat gestop het om koeldranke te skenk, het daarvoor opgemaak. Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om nie rommel te strooi nie en enigeen wat dit doen, aan te spreek,” het Damon gesê.

Die Hawston-gemeenskapsforum het biskop Jan Gelderblom bedank vir die vervoer van die vullissakke en takke, Eddie Carelse vir die tuingereedskap en Chrizelle Booysen en Linfred Manuel vir die skenking van koeldranke.

Dié skoonmaakprojek by die “pleintjie”, soos dit alombekend staan, is een van talle projekte wat deur die forum uitgevoer word. Van die beoogde projekte sluit in onder meer ’n verfraaiingsprojek wat deur die Garden Guardians, ’n subkomitee van die gemeenskapsforum, gedryf gaan word en die aanlê van klein tuine by die dorp se ingange behels.

“Ons vra die gemeenskap om plante, sade, tuingereedskap en enigiets anders wat gebruik kan word om die ingange te verfraai, vir die projek te skenk,” was Damon se beroep.

Die Hawston-gemeenskapsforum beoog ook om ’n familie-pretdag vroeg in die nuwe jaar aan te bied.

Vir meer inligting oor die projekte en hoe om betrokke te raak, kan Griffon Damon by 078 789 0466 of die forum se voorsitter, Theo de Villiers, by 083 393 3029 gekontak word.

Wat die verfraaiingsprojek betref, kan die Garden Guardians Dalene Williams by 082 393 5193 of Ebin Manuel by 071 225 8849 gekontak word.

You need to be Logged In to leave a comment.