Volgens Dugmore is die eerste opsie om as regering met die ontwikkelaar te praat om sodoende die grond te koop sodat die inwoners daar kan bly en dan ook sodoende ander bykomende behuising te verskaf. Die ander opsie is volgens hom om ingevolge die Wet op Onteiening op te tree.
“Om hierdie opsies te oorweeg, is dit belangrik dat al die verskillende partye saam moet werk om dit te bekom. Ek sal uit my pad gaan om ’n vergadering met die Behuisingsvereniging en die inwoners in Mei te belê,” het Dugmore gesê.
Een van die inwoners, Hermanus Pieterse, vertel hierdie uitsetting het al vir hom slapelose nagte gegee, veral voor die hofdatum. “Ek het nou die oggend met ’n lied in my hart wakker geword en ’n stem het vir my gesê binnekort sal die pyn en lyding verby wees. Ek het geweet die lied kom van die Here af. Die lied lui so: ‘This is the day that the Lord has made and that you must rejoice in it . . .’,” het hy gesê.
Pieterse het ook die inwoners van Paradisepark by die hofsittings verteenwoordig en volgens hom glo hy die regslui het hulle geboelie. “Die saak van Paradisepark is groter as die individu self. Ons haal ons emosies en alles uit ons pad uit. Die saak van Paradisepark se mense wat in vrede wil bly, is die hoofsaak,” het hy gesê.
Tracey-Lynn Henn, die woordvoerder van die inwoners van Paradisepark, vertel hulle sal alles probeer om die inwoners daar te hou. “Hier is kinders met outisme wat hier by ons bly, hier is kinders wat in privaat skole moet wees. Dit is onmoontlik vir hulle om hervestig te word,” het sy gesê.
Die Hermanus Times is oorval met oproepe en briewe oor inwoners wat hul misnoeë uitspreek oor die Paradise-saga. Sommige briewe meen dit is onmenslik om daardie mense uit hul huise te sit. Die een briefskrywer het genoem toe dit met hom moeilik gegaan het, het Paradisepark-inwoners uit hul pad gegaan om hom by te staan.
Die eienaars van die grond is gekontak vir kommentaar, maar teen druktyd is nog niks ontvang nie.