“Dwelm- en alkoholverslawing is ’n werklikheid en dit moet te alle tye met erns benader word.”
Só het Joe van der Berg, die besturende direkteur van BOWL Addiction Treatment Services, wat buitepasiëntdienste vir dwelm- en alkoholverslaafdes bied, gesê.
BOWL Addiction Treatment Services is ’n organisasie sonder winsbejag – wat in Worcester gebaseer is met ’n satelliettak in Villiersdorp – en wat op die voorkoming en behandeling van dwelm- en alkoholverslawing fokus.
“Die organisasie se uitbreiding van hul dienste na Villiersdorp het gespruit uit die behoefte wat die Theewaterskloof-munisipaliteit se Local Drug Action Committee (TWK LDAC) raakgesien het en ná groot data-insameling en vele gesprekke tussen rolspelers kon die organisasie sedert April 2022 sy dienste in Villiersdorp en die omliggende plase begin lewer,” het Van der Berg gesê.
Volgens hom bied hulle ’n veilige en intieme omgewing waar individue hul probleme kan verken en hul selfbewustheid en selfvertroue kan ontwikkel.
“Elke sessie is vertroulik en ons moedig die gemeenskap aan om van ons dienste gebruik te maak. Mense moet weet ons is hier om hulle te help.”
Die organisasie word deur die departement van maatskaplike dienste gefinansier.
Van der Berg se rehabilitasiedienste is gegrond op die “Matrix-model”, wat ’n ses weke lange intensiewe buitepasiëntprogram insluit. Dit word deur die Nasionale Instituut vir Dwelmmisbruik (NIDA) erken as ’n doeltreffende benadering om verslawing te behandel.
Die organisasie bied ook verskeie ander programme wat fokus op (verslaafdes se) familie, sowel as studente, vroue en werknemers/-gewers, wat voorkoming en nasorgdienste insluit.
“Die werknemerprogram fokus daarop om mense te help wat as gevolg van werksdruk dwelms begin gebruik het – dit is ’n gestruktureerde program wat dit moontlik maak dat die verslaafde steeds werk toe kan gaan en ná werk sessies kan bywoon.
“Die familieprogram poog om die familie in te lig hoe om met die individue te werk nadat iemand erken het hy/sy het ’n probleem, en dit verskaf ook die nodige riglyne om verdere ondersteuning te bied.”. Die organisasie se kantoor kan by Buitekantstraat 2, Villiersdorp Resource Centre, besoek word en vir meer inligting oor die organisasie, besoek www.bowlcc.co.za of skakel 082 470 6857.