Die boom by die biblioteek is in blou materiaal gedrapeer om prostaatkankerbewusmaking te bevorder, asook met ’n pers strikkie vir testikulêre kanker. Voor is Kirsten Goliat, Gerhard van Wyk en Marlon Sauls. Agter is Amy Ess, Renske Kiewitz, Yolanda Hofmeester en Phelani Ketso. Marlon Sauls is verbonde aan die Caledon-museum. Die ander mense is verbonde aan die Caledon-biblioteek.Foto: Mitzi Buys


November was mansgesondheids­bewusmakingsmaand.

Aangesien mans in die algemeen minder geneig is as vroue om oor hul gesondheid – fisiek sowel as geestelik – te praat, is hierdie bewusmakings­veldtog uiters belangrik. Dit moedig mans aan om gereeld mediese raad te kry en indien nodig, vroeë behandeling vir sekere siektes te ondergaan.

Die Caledon-biblioteek, in samewerking met die Caledon-museum, het ter bewusmaking van mansgesondheid verskeie bome in die dorp met blou materiaal gedrapeer en pers strikkies daarop aangebring. Blou verteenwoordig prostaatkanker en die pers strikkie testikulêre kanker – twee van die algemeenste soorte kanker wat onder mans voorkom.

Gerhard van Wyk van die Caledon-biblioteek sê: “Dit is uiters belangrik om mans bewus te maak van hul gesondheid – veral ook van hul geestesgesondheid. Mans praat nie graag oor hul gevoelens nie, en met hierdie bewusmakingsveldtog het ons probeer om mans bewus te maak om na hul eie gesondheid om te sien.”

Marlon Sauls van die Caledon-museum sê: “Hierdie bewusmakingsveldtog is die ideale geleentheid om alle mans aan te moedig om nou beheer oor hul gesondheid te neem.”

Die veldtog is op 28 November afgesluit met ’n stap deur die Caledon-veldblommetuin.

You need to be Logged In to leave a comment.