Met hul unieke klanke laat hulle jou voete jeuk.
Die Botrivier-Marimba-orkes het klein begin, maar vandag speel hulle nie net die hele Overberg nie, maar ook die land, aan die brand.
“Botrivier is ’n klein dorpie wat bestaan uit ’n kruidenierswarewinkel, ander klein winkeltjies en ’n hotel. Die skool is vir leerders van gr. R tot gr. 9, en as die kinders van die dorp dan moet hoërskool toe gaan, moet hulle by skole in Caledon, Grabouw of Hermanus inskryf. Hier is nie veel wat ons kinders in die dorp kan doen nie,” vertel Florence de Louw, bestuurder van die Marimba-orkes.
Volgens haar moes hulle iets doen om die kinders besig en uit die moeilikheid te hou.
“Ledigheid is die duiwel se oorkussing, en as ons nie ons kinders besig hou nie, gaan hulle in die euwels van die samelewing verval, soos dwelmgebruik en om by bendes aan te sluit. Daarom het ons ’n stap van geloof geneem en die Marimba-orkes begin.”
Florence sê hulle het aan die begin van die instrumente van The Enlighten Education Trust in Hermanus gebruik gemaak.
Dié groep, wat nou uit 16 lede bestaan, het vinnig van krag tot krag gegaan en naam gemaak. Hulle het selfs in 2017 Botswana gaan besoek om hul talente verder uit te brei.
Namate die jare vorder, het hulle die marimbas onder die knie gekry, meer selfvertroue gekry, selfs skoonskip by kompetisies gemaak en ook bekendheid verwerf.
“Verlede jaar was vir ons ’n hoogtepunt. Ons het lekker televisieblootstelling gekry en was op televisieprogramme soos Fiesta, KLOP en Espresso Morning Show.
“Ons klanke is ook op RSG tydens ’n radio-onderhoud gehoor,” vertel Florence trots.
“Ons het ook aan die Kunstekaap se jeugfees deelgeneem, asook aan die internasionale Marimba-fees in Gauteng.”
Ander prestasies is onder meer ’n tweede plek in die solo-item by die Virtual International Marimba and Steelpan Festival in 2021, ’n tweede plek in die groep-item by die Virtual International Marimba and Steelpan Festival in 2020, ’n tweede plek by die Suidoosterfees in 2019, en oorwinnings in die Stellenbosch-eisteddfod in 2016 en die Overberg-eisteddfod in 2017.
Die orkes tree ook gereeld by verskillende feeste op en kan by die Wines2Whales gesien word.
Wynplase maak ook gereeld van hul talente gebruik en dit is vir hulle ’n eer om gereeld by Gabriëlskloof-, Wildekrans- en Beaumont-wynkelders op te tree.
“Ons sou nie hierdie prestasies sonder die getroue hulp en opofferings van Ilene Olivier, die afrigter van die orkes en Anna-Marie Kotze, die raadgewer, kon bereik nie,” sê Florence.. Die Botrivier-Marimba-orkes tree Vrydag om 17:00 by die Anglikaanse kerk in Botrivier op en almal is welkom om na die orkes te kom kyk en luister.
Lesers wat die orkes vir geleenthede wil bespreek, kan Florence by 072 380 1083 bel.