Die matriekklasse van 1952, 1953, 1954 en 1955 van die ou Hoërskool Caledon word na ’n reünie op 8 November by die Hermanus-gholfklub genooi.

Volgens Jan Kühn was hy deel van die matriekklas van 1952. “Ons het in 2002 ’n 50 jaar-reünie by Dassiesfontein gereël en die 60ste reünie was by Houw­hoek Inn. Ons het elke keer besluit om ook die matriek­klasse van 1953, 1954 en 1955 te betrek, want vir vier jaar was die destydse standerd 7-, 8- en 9-klasmaats saam met ons. Dit het gehelp om die getalle te vergroot. Die ‘groentjies’ van die 1955-klas is nou gemiddeld 85 jaar oud en ons 1952-klas is nou 87 of 88 jaar oud,” vertel Kühn.

Hy verskaf ook die volgende interessante brokkie inligting van die Caledon-matriekklas van 1952: “Daar was 31 leerders in die klas, van wie ons agt nie kan opspoor nie omdat hulle geen selfoonnommers of adresse het nie. Ons weet dus nie of hulle nog leef nie,” sê Kühn. . Bel Jan Kühn by 076 511 7957 of George Erasmus by 082 389 0201 vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.