Medelye van oor die land heen het vir die Oud-Bok en sport-omroeper Breyton Paulse ingestroom nadat dit bekend gemaak is dat sy ma en tannie Sondag in ’n fratsongeluk by die Ou Hawe in Hermanus dood is.
Volgens kaptein Fadila September, woordvoerder van die Hermanus-polisie, is die twee susters, Setta Visagie (Paulse se ma) en Marie Gelant, omstreeks 15:00 deur ’n brander van die rotse afgeslaan toe hulle op die rotse gestaan het sodat foto’s van hulle geneem kon word.
“Hul liggame is deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) uit die see gehaal. Die familie het dadelik traumabehandeling ontvang,” het September gesê.
Volgens haar het die familie uit Ceres in Hermanus kom vakansie hou toe die tragedie hulle getref het.
Volgens André Barnard, die stasiebevelvoerder van die NSRI in Hermanus, is hulle omstreeks 15:03 gekontak oor die twee liggame wat in die see by die Ou Hawe gedryf het.
“Die Rotarian Burnett is te water gelaat en die NSRI-menseredders tesame met die reddingsvoertuig en die St. Johns-amulansdienste was dadelik op die toneel. Noodbehandeling is op hulle toegepas, maar niks kon vir hulle gedoen word nie en paramedici het hulle op die toneel dood verklaar. Die Hermanus-polisie is dadelik in kennis gestel en ’n dossier is aangelê. Ons dink aan die familie in dié moeilike tye,” het Barnard gesê.
Paulse het aan Netwerk24 gesê “dit is baie hartseer; bid vir my en my familie”.
Charl du Toit van De Keur-landgoed in die Koue Bokkeveld en ’n oudwerkgewer van Visagie, het gesê Visagie het 50 jaar vir hulle gewerk en hulle kinders help grootmaak. . Verskeie mense het hul lewe die afgelope paar maande in Hermanus aan die hand van die see verloor.
Hermanus Times het in Junie berig oor ’n man wat op 4 Junie omstreeks 12:00 deur branders van die rotse voor die Esplanade-hotel afgeslaan is (Deur golwe weggesleur, Hermanus Times, 8 Junie).
Op 11 Mei het ’n man sy lewe by Gearing’s Point verloor toe hy na bewering van die rotse afgeval het. (Man dies at Gearings Point, Hermanus Times, 11 Mei).
’n Hawelose man het in April van die rotse by die Marine-hotel geval. Hy het veelvuldige kop- en nekbeserings opgedoen en is later in die hospitaal dood (Hermanus Times, 27 April, Man falls down cliff, badly hurt).
Die NSRI het al verskeie veiligheidswenke gegee as jy strand toe gaan:. Swem tussen die vlae;. Moenie jou rug na die see draai nie; . Moenie alkohol gebruik en swem nie;. Moenie alleen gaan swem nie; . Volwasse toesig is noodsaaklik;. Hou die NSRI se nommer altyd byderhand;. Moenie oor versperrings klim nie – dit is daar vir ’n rede.