Oud-Hermies bots

Twee oudrugbyspelers van Hoërskool Hermanus het Saterdag 15 Januarie in ’n titaniese wedstryd kragte teen mekaar gemeet – een het vir die Lions uitgedraf, terwyl die ander vir die WP gespeel het.


Twee oudrugbyspelers van Hoërskool Hermanus het Saterdag 15 Januarie in ’n titaniese wedstryd kragte teen mekaar gemeet – een het vir die Lions uitgedraf, terwyl die ander vir die WP gespeel het.

Leolin Zas, wat in 2013 aan Hoërskool Hermanus matrikuleer het, speel tans vir WP. Hy het in 2014 vir WP se o.19-span gespeel en in 2015 vir WP se o.21’s. Verder het hy ook vir die junior Bokke by die Wêreldbeker uitgedraf. In 2015 het hy die heel eerste keer vir WP se senior span uitgedraf en in 2016 vir die Stormers in die SuperRugby-reeks gespeel. Die jaar daarna, in 2017, het hy ’n besering opgedoen wat hom ’n jaar uit aksie gehou het. In 2018 en ’n deel van 2019 het hy vir die Sharks gespeel, maar aan die einde van 2019 is hy weer terug na die WP-span.

Boldwin Hansen, wat in 2018 gematrikuleer het, speel al die laaste drie jaar vir die Leeus en geniet steeds elke oomblik daarvan. “Ek noem Johannesburg ‘my huis’, maar dis my tweede huis – Hawston is my trotse tuiste,” sê Hansen.

Hansen, wat nes Zas op vleuel speel, sê verlede jaar was die moeilikste jaar van sy lewe. “Net drie weke voordat ons met die o.20-Curriebekerreeks moes begin, stuur my ma vir my ’n boodskap en laat weet dat sy en my ouma asook albei haar seuns positief vir Covid getoets is. Ek het sonder om twee keer te dink, ’n vliegtuigkaartjie bespreek en huis toe gegaan.

“Om ’n lang storie kort te maak: Ons het my oupa verloor en was platgeslaan,” sê Hansen.

Kort ná sy oupa se dood moes hy terug Johannesburg toe om teen die Bulle uit te draf.

“Ons het daardie jaar die Bulle in Pretoria gewen en die kompetisie op ’n hoë noot afgeskop.” Speel teen mekaar

“Dit was ’n voorreg om teen Boldwin te speel. Dit het my baie trots gemaak om teen iemand te speel wat in dieselfde skool as ek was. Dit maak my bly om so iets te kan beleef. Ek het hom op skool dopgehou en geweet hy het altyd die potensiaal om dit te maak. Ek hoop Boldwin bereik nog baie groot hoogtes in sy rugbyloopbaan en dat hy geen beserings sal opdoen nie,” sê Zas.

Volgens Hansen was die twee se kragmeting “een vir die boeke”. “Dit was die eerste keer in ons skool se geskiedenis dat twee ‘old boys’ op provinsiale vlak teen mekaar speel, wat dit ekstra spesiaal maak.”

Hy sê hy en Leolin het al so paar keer voorheen saam gekuier en ken mekaar weg van die veld af ook. “Ons het mekaar nie voor die wedstryd gesien nie. Ons het net ná die afskop ’n lynstaan in ons kwartgebied gehad toe kyk Leolin vir my en skree: ‘Sterkte my bra!’ Ons het mekaar gereeld ‘gechirp’; dis maar iets wat teenstanders met mekaar tussen daardie vier lyne doen,” sê Hansen.

You need to be Logged In to leave a comment.