’n Oud-inwoner van Kleinmond, De Wet Hugo, is pas aangewys as die Kinderverhaal-wenner van NB-uitgewers se 2023-Jeugboekpryse met sy kinderboek Die doodgelukkige bure.

Saam met De Wet op die podium is Sandy Schoeman as tiener- of jongvolwassene-wenner vir Chakalaka uit ’n blikkie.

Die twee wenners is uit altesaam 104 inskrywings aangewys. Hulle stap elk met prysgeld van R50 000 weg – die grootste geldprys tot nog toe in ’n kompetisie vir Afrikaanse kinder- en jeugmanuskripte. De Wet is ’n laerskoolonderwyser wat die afgelope sowat vyftien jaar by internasionale skole – eers in Saoedi-Arabië en tans in China – skoolhou.

De Wet het op die plaas Spes Bona – tussen Worcester en Villiersdorp – grootgeword, waar sy pa ’n wynboer was.

Hy was ’n leerder aan die destydse Worcester Voorbereidingskool (vandag Wynland), toe Worcester Primêr, en het sy hoërskoolloopbaan aan die Hoër Landbouskool Boland in die Paarl voltooi. Ná skool het De Wet onderwys in Wellington by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie studeer. Hierna het sy onderwysloopbaan in Kaapstad begin.

Ná ’n paar jaar in die Kaap en Boland het hy geleenthede gekry om oorsee skool te hou – eers in Saoedi-Arabië, waar hy 12 jaar skoolgehou het, en nou is hy al byna twee jaar by Wellington College in Hangzhou, China.

De Wet vertel hy het al ’n paar jaar skoolgehou toe hy eendag uitgevind het die kinderboekskrywer Marianna Brandt bied ’n kort kursus aan waar jy kan leer hoe om vir kinders te skryf. “Ek het gedink dit klink na iets wat ek sal geniet en het die kursus vir twee dae by die Bellville-biblioteek gaan bywoon. ’n Paar jaar (en ’n paar onsuksesvolle manuskripvoorleggings) het verbygevlieg en toe kry ek uiteindelik die geleentheid om kinderrympies tot ’n bundel by te dra. Dis juis een van die samestellers, Riana Scheepers, wat my die eerste keer werklik laat glo het dat ek talent het en my die nodige moed gegee het om my hand aan ’n vollengte manuskrip te waag.

“Teen die tyd dat daardie manuskrip by Human & Rousseau vir publikasie aanvaar is en in 2018 verskyn het, is ’n paar [van my] kortverhale al in bundels opgeneem.

“Later vanjaar sal my manuskrip wat pas die NB-Jeugboekprys vir Kinderverhale gewen het, my agtiende boek in ses jaar wees. Ek het ook verskeie kortverhale, rympies en dramas tot bundels vir die skolemark bygedra. Ek het ook al vier prenteboeke vir NB-uitgewers vertaal, waarvan twee later vanjaar verskyn.”

De Wet se topverkoperreekse Grilgrypers en Kies-jou-avontuur is uiters gewild onder jong lesers. Katastrofe en Catastrophe het in 2022 verskyn, sowel as Lekkerlag-pretboek, gevolg deur die Kinkels en keuses-reeks. Hy het bydraes gelewer tot die versamelbundels Rympies vir Pikkies en Peuters, Skrik op die lyf, Rympies vir Kleintjies en Kleuters, Liedjies vir Pikkies en Peuters, Bybelliedjies vir Kleintjies en Kleuters, Ingonyama en ander maats met leeueharte en Skool is ’n riller.

You need to be Logged In to leave a comment.