Twee jeugdiges sal na verwagting vandag in die Bredasdorp-landdroshof verskyn in verband met die moord van ‘n geliefde oudonderwyser in die dorp.
Die 82-jarige Sammy Cloete se liggaam is Saterdag omstreeks 15:45 by sy huis in Jakarandalaan gevind. Hy het volgens berigte ‘n steekwond in sy nek gehad en sy voertuig is ook gesteel.
Twee jeugdiges, onderskeidelik 16 en 18 jaar oud, is oor die naweek in hegtenis geneem nadat hulle volgens berigte gewaar is waar hulle in die oorledene se voertuig gery het.
Die nuus van die geliefde oudonderwyser se tragiese en sinnelose moord het sosiale media behoorlik laat gons met talle wat hul skok en medelye oor die oudonderwyser van Albert Myburgh Sekondêre Skool se dood betuig het.
Die Kaap Agulhas-munisipaliteit se burgemeester Raymond Ross het Saterdagaand op Facebook sy medelye aan Cloete se naasbestaandes betuig en ‘n dringende beroep op die gemeenskap gedoen om enige inligting wat hulle aangaande die moord het met die polisie te deel.
“Laat ons saamstaan om geregtigheid te laat geskied,” was sy pleidooi.
In reaksie op dié plasing het Paul Swart, die voormalige KAM-burgemeester, geskryf: “So onnodig. Hartseer. Wreed. Sulke mense behoort nie in die samelewing nie. Ek kan dit net nie verstaan en begryp watter tipe mense ‘n mes kan vat en iemand anders net doodsteek nie. Geen gevoelens.”
Swart het voortgegaan deur te sê dwelmbase moet ook vir hierdie soort misdade verantwoordelik gehou word aangesien dit “80% te doen het met dwelms”.
Ross het in ‘n daaropvolgende plasing sy “ernstige kommer oor die toename in geweldsmisdaad” in die gebied uitgespreek en die gemeenskap gemaan dat almal betrokke moet raak in die stryd teen misdaad.
“Misdaad raak ons almal. Veiligheid is nie net die verantwoordelikheid van die polisie of die munisipaliteit nie, dit is ‘n gesamentlike taak. Elkeen van ons het ’n rol om te speel of jy ’n ouer, onderwyser, kerkleier, jong mens, besigheidseienaar of gewone inwoner is, ons moet hande vat om ons strate, skole en woonbuurte weer veilig te maak,” het Ross beklemtoon.
Ross het ook ‘n beroep op die plaaslike sakegemeenskap gedoen om ‘n bydrae te lewer deur kameras en patrolliedienste te borg en meer werksgeleenthee te skep om misdaad te help bekamp.
Hy het bygevoeg: “Samewerking tussen die privaat sektor, polisie, gemeenskapsforums en plaaslike regering is nie net nodig nie, dit is noodsaaklik. Laat ons nie wag totdat geweld by elkeen se voordeur klop nie. Laat ons dit voorkom eerder as om te reageer. Kom ons werk saam, praat saam, en veg saam vir ‘n Kaap Agulhas waar elke inwoner, kind en besoeker veilig kan wees.
“Veiligheid begin by elkeen van ons. Saam kan ons ‘n verskil maak.”





