Oud-onnie sterf

Skok. Ongeloof. ’n Tranedal.


Skok. Ongeloof. ’n Tranedal.

Dit was van die reaksies wat gevolg het ná die nuus dat Anton Neethling, wat jare lank Mount Pleasant Primêr se onderhoof was, in ’n grusame ongeluk buite Grabouw gesterf het.

Neethling, wat ook ’n bekende kleinboer van Genadendal was, was op pad Kaapstad toe, toe die botsing, wat sy lewe geëis het, Saterdag 9 Desember omstreeks 13:10 op die N2 naby Hickville Smokehouse gebeur het.

Lt.kol. Pieter de Kock, bevelvoerder van die Grabouw-polisie se speurtak, het bevestig drie voertuie was in die noodlottige botsing betrokke.

“Die oorledene is op die toneel dood. ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek. Een mens is dood en vyf is beseer,” het De Kock bygevoeg.

’n Emosionele gedenkdiens is verlede Donderdag by Mount Pleasant Primêr, waar Neethling sedert 1999 die onderhoof was, gehou.

Die skool het Neethling in ’n roerende huldeblyk op Facebook beskryf as iemand wat vir die 25 jaar wat hy by die skool gewerk het, “sy alles gegee” het vir die skool en ’n kampvegter vir die regte van opvoeders was.

Neethling is ook beskryf as ’n onderwyser wat streng maar ook baie bemind en gewild was. “Hy het ’n baie teer plekkie vir ‘probleem’-leerders gehad. Hy het geglo hulle moes deel wees van aktiwiteite en het dié leerders altyd beloon as hulle iets goed gedoen het,” het die skool geskryf.

“Meneer Neethling los ’n baie groot leemte in baie van ons se hart. (Hy) het diep spore in die gemeenskappe van Mount Pleasant, Hawston en Genadendal getrap.

“Sy kennis en wysheid gaan beslis gemis word,” het die huldeblyk afgesluit. . Neethling word oorleef deur sy seun, Ayrton, en sy kleindogters Kenzley en Gailynne. Hy is Saterdag 16 Desember in sy tuisdorp, Genadendal, ter ruste gelê.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.