’n Bekende in Greyton- en Overberg- politieke kringe, Daniel Francois (Danie) du Toit, is Dinsdag 27 Desember ná ’n lang gesondheidstryd oorlede.

Du Toit is op 24 Maart 1960 in Caledon gebore en het in die Lindeshof/Soetmelksvlei-omgewing grootgeword.

Du Toit se politieke loopbaan het in 1991 begin toe hy as onafhanklike kandidaat die setel in Greyton met een stem gewen het. Van 1995-1998 was hy Greyton se burgemeester, waarna hy as raadslid in die Theewaterskloof-munisipaliteit gedien het. Ná die amalgamasie van munisipaliteite in 2006 is hy afgevaardig na die Overberg-distriksmunisipaliteit (ODM). By ODM was hy vir vyf jaar die hoofsweep van die opposisie en later koukusleier. Vanaf 2011 het hy as speaker van die ODM gedien en vanaf 2015-2021 het hy die amp as speaker by die Theewaterskloof-munisipaliteit beklee.

Du Toit is beskryf as ’n beskeie maar passievolle mens wat mense wou dien en bemagtig.

Huldeblyke het op sosiale media ingestroom. Op TWK se Facebookblad sê TWK se uitvoerende burgemeester, Kallie Papier: “Hy was ’n ware dienaar van die mense en het met waardigheid gedien.”

TWK se onderburgemeester, John Michels, sê: “Hy was ’n nederige, saggeaarde mens, en tog kon hy orde in die raadsaal handhaaf, en dit spreek tot watter mate raadslede hom respekteer het.”

By navraag het Lincoln de Bruyn, ODM se speaker, gesê: “Dit is met hartseer en skok dat ons van Danie se afsterwe verneem het. ’n Groot seder het in die politieke arena geval. Hy was gedissiplineerd, hardwerkend en het ’n passie vir sy gemeenskap gehad. Sy raad, sy leiding en hy sal gemis word”.

De Bruyn noem ook dat Du Toit in 2000 saam met Chris Punt, Stephen Vashu, dr. Selby Frank en Jean Maurice een van die stigterslede van die DA in die TWK was.

Martie Koegelenberg, ’n jare lange kollega, sê: “As ’n kollega in die politiek het ek Danie leer ken as een van daardie mense wat elke dag presies dieselfde was. Jy kon hom klokslag 08:00 op kantoor kry en sy deur was wawyd oop. Hy was ’n staatmaker en altyd op sy pos.”

Die TWK-munisipaliteit se huidige speaker, Derick Appel, het die volgende huldeblyk gebring: “Daniel Francois du Toit was ’n rustige mens – ’n groot man, maar innerlik ’n sagte mens. As ek Danie in een woord kan beskryf, sal ek hom ‘lojaal’ noem – lojaal teenoor die TWK-munisipaliteit, maar eerstens lojaal teenoor die gemeenskap wat hy gedien het. Rus sag, ou grote.”

Du Toit se dogter, Danielle, sê hulle as gesin is so dankbaar dat hulle nog Kersfees saam kon vier.

Hoewel die titel raadsheer aan Du Toit toegeken is, was hy in sy gemeenskap alombekend as “oom Danie”. Hy was baie betrokke by sy gemeenskap en het groot genot daaruit geput om byvoorbeeld sportdae te reël, skenkings aan die gemeenskap te doen en om by geleenthede soos die Roosfees, waarvan hy ’n stigterslid was, en by basaars potjiekos te kook. In sy vrye tyd het hy graag gesweis, biltong gemaak en rugby gekyk.

Du Toit word oorleef deur sy vrou Carin, hul kinders Francois en Danielle en kleindogter Maia, asook sy broers Stephen, Wessel en Johan en sy suster Leana du Toit.

’n Huldediens is Dinsdag 3 Januarie by die NG kerk Greyton gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.