Die raadslid Chris Cloete, die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en die minister Ricardo Mackenzie en gaste neem vrolik deel aan ’n liedjie wat die YeBoneers gesing het.Foto’s: Mitzi Buys


Die skilderagtige Overbergse dorp Genadendal is oorspronklik as ’n sendingstasie gestig toe George Schmidt, ’n Duitse sendeling van die Morawiese kerk, hom op 23 April 1738 in die Baviaanskloof gevestig het.

Genadendal pronk nie net met die oudste sendingstasie in Suid-Afrika nie, maar ook die oudste openbare biblioteek in die Wes-Kaap en tweede oudste in Suid-Afrika. Volgens die boekregister van die Genadendal-museum is die biblioteek in Junie 1824 geopen.

Die 200-jarige bestaan van die Genadendal-biblioteek is verlede Vrydag (28 Junie) op luisterryke wyse gevier. Dié viering is deur Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, Ricardo Mackenzie, die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Cecilia Sani, die direkteur van Wes-Kaapse biblioteekdienste, verskeie gemeenskaps-belanghebbendes, asook Theewaterskloof-munisipale amptenare en ander geëerde gaste bygewoon.

Die eerste boekeversameling is in die Middle House aangehou, wat ook die kerksaal vir ’n wyle gehuisves het. Die sendeling Hans Peter Hallbeck het boeke as ’n noodsaaklike bykomstigheid vir die skool en kerk in Genadendal beskou en ’n vertrek as biblioteek ingerig met boeke wat hy van verskeie bronne verkry het. Die meeste boeke het uit die 18de en vroeë 19de eeu gedateer en is in drie hoofgroepe verdeel, naamlik Engels, Duits en Hollands. Die oudste boeke in dié versameling is twee Bybels – een wat in 1629 in Duitsland gedruk is en ’n Hollandse een wat uit 1682 dateer.

In blougrotte bewaar

Oor die jare is die boeke in verskeie persele gehuisves, onder meer die Blougrotte, ’n gebou agter die pastorie. Die biblioteek word tans in ’n nuwe gebou, wat in 1992 opgerig is, gehuisves en val onder die Theewaterskloof-munisipaliteit se beheer. Dié gebou is onlangs opgeknap en die binneruim is modern, lig en gebruikersvriendelik.

Joanna Marzec-Visagie, die bestuurder van volhoubare ontwikkeling, het in die openingsrede gesê: “Vandag eer ons die werk en toewyding van diegene wat die waarde van geletterdheid en opvoeding besef en begryp het – dié wie se stemme en optredes die weg vir toekomstige geslagte voorberei het.”

Cecilia Sani, die direkteur van Wes-Kaapse biblioteekdienste, het gesê die TWK-biblioteke is toonaangewers en innoveerders.

“Hulle was die eerstes wat met die YeBoneer-program begin het. Dié program het ’n geweldige invloed op ons lees- en literêre ingryping. Die TWK is een van die min munisipaliteite wat openbare biblioteekdienste, gemeenskapsontwikkeling en gemeenskapsuitreikprogramme op ’n sinvolle wyse geïntegreer het.”
Cecilia Sani

Sani het genoem met 376 biblioteke het die Wes-Kaap die meeste biblioteke in die land en daarmee kan dié biblioteke ’n beduidende verskil in die lewe van gemeenskappe maak.

Ricardo Mackenzie, die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, het in sy toespraak gesê boeke is ’n noodsaaklike deel van ons lewe. “Ons word deure hierdie 200-jarige viering herinner aan die noodsaaklike rol wat openbare biblioteke in die gemeenskap vervul. Hulle verskaf toegang tot inligting en bevorder ’n liefde vir lees. Dit was vanoggend wonderlik om ons Cape Access eCentre [gratis toegang tot rekenaars en internet] hier te sien en die waardevolle diens wat dit aan gemeenskappe bied.”

Paul Adendorff en van die gaste op ’n toer van Genadendal.

Nie net boeke nie

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het gesê: “Biblioteke gaan nie nét oor boeke nie. Biblioteke gaan oor geskiedenis, die onthou van ons verlede en die kennis en voorbereiding vir ons toekoms, maar dit gaan ook oor mense. Ons Cape Access-sentrum help jong mense met skooltake, navorsing en om vir betrekkings te soek. Ons moet lees bevorder. Ons moet seker maak mense het boeke en hou daarvan om te lees,” sê Winde.

Hy sê lees met begrip is ’n groot probleem in Suid-Afrika. “Agt uit 10 graad 4-leerders kan nie met begrip lees nie. Dit is almal se verantwoor­de­lik­heid om leerders hiermee te help. Sowat 43% van Suid-Afrikaanse huishoudings het geen boeke nie, terwyl die wêreldgemiddelde 218 boeke per huishouding is.

“Die gemiddelde uitvoerende hoofde van Fortune 500-maatskappye lees gemiddeld 60 boeke elk per jaar. Dit is ons taak om mense aan die lees te kry. Gee ’n boek as ’n geskenk aan iemand,” sê Winde.

“Synde ons nou die 200-jarige bestaan van hierdie biblioteek vier, het dit my laat dink – hoekom nie ’n Genadendal-boekfees in hierdie biblioteek nie? Kom met ’n plan en ek sal ’n plan maak vir ’n begroting.”

Ná die toesprake het Paul Adendorff, ’n bekende toergids van Genadendal, gaste op ’n interessante toer van die biblioteek tot by die geskiedkun­dige kerkplein geneem. Dr. Isaac Balie, wat Genadendal se geskiedenis soos die palm van sy hand ken, het by die kerkplein verdere inligting verskaf en gaste op ’n kort toer geneem.

You need to be Logged In to leave a comment.